Die mate
waartoe ’n taal kan groei en verander – veral kleiner tale – moet nie onderskat
word nie, selfs nie in die geglobaliseerde wêreld waarin ons vandag woon nie.
Daar moet, byvoorbeeld, nie aangeneem word dat almal Engels magtig is nie. Dit
is ook nie nodig om slegs Engels te gebruik nie, veral nie as die nodige
terminologie in ander tale beskikbaar is nie. Indien daar nie terminologie beskikbaar
is nie (soos die geval is met, byvoorbeeld, tegnologie wat so vinnig verander),
kan daar werk van gemaak word om hierdie terminologie te skep. Daar blyk egter
die veronderstelling te wees dat sekere terminologie nie in sekere tale kan bestaan nie. Dít is egter onsin.
![]() |
Foto:
Gratisography
|
Elke dag
word nuwe woorde geskep of bestaande woorde aangepas deur die sprekers van die
taal. Daar is ’n kans vir kreatiewe, speelse neologismes en om die “gevoel” van
die taal in hierdie nuwe woorde oor te dra. Ons twiet, hou van blaaie en
luister na ’n potgooi. Ons neem ’n kiekie van die rekenaarskerm en draadloos verwys nie meer net na ’n
radio nie. Ons wil Facebook en Google in Afrikaans sien. In plaas daarvan dat
die taal stilstaan en stof opgaar, groei en gedy dit elke dag.
Die vorming
van nuwe woorde is eintlik ’n wonderlike manier om die taalgemeenskap in aksie
te sien. Deur ook ’n Afrikaanse gebruikerkoppelvlak vir soveel programme as
moontlik te skep kan ander tale ook dié voorbeeld volg en hulle eie tale op
hierdie manier aanwend en laat groei.
Taal is tog
daar om aan sprekers se behoeftes te voldoen – hoekom sal ons dit nou nie ten
volle benut nie?