Vandag is my eerste dag terug op kantoor. Met hope e-posse om te lees en my eerste sperdatum wat reeds Woensdag is, het ek besef dat ek weer moet kyk na die manier waarop ek spertye en dies meer aanteken.
Ek het besluit om hierdie jaar gebruik te maak van ’n dagboek en die Bullet Journal. Aangesien ek reeds gebruik maak van ’n tipe Bullet Journal om my take vir die dag aan te teken, dink ek dat die stelsel wat Ryder Carroll gebruik heel moontlik die beste vir my sal werk. Ek het al digitale tydsbestuurtoepassings probeer, maar, hoewel ek steeds dink iets soos Wunderlist wonderlik is, soek ek iets wat nie digitaal is nie.
Vir dié wat analoog verkies – die Bullet Journal
Gaan luister gerus na hierdie potgooi van The Pen Addictwaar Ryder Carrol die gas is en oor die Bullet Journal praat. Hy verduidelik ook hoe dit gebruik en aangepas kan word by die manier waarop jy werk. (Ek dink sommige van die mense wat dit al probeer het, het die deel waar jy dit vir jou aanpas misverstaan.)
Vir my sal die inhoudsopgawe voor in die boek baie help om my notas van vergaderings, idees vir kliënte, skryfnotas en daaglikse-doen-dinge vinnig op te spoor. Aangesien ek baie streng spertye het, sal ek wel ook ’n dagboek nodig hê om dit vooruit aan te dui sodat ek al my ander werk daarom kan inpas.
Ek gaan ook nie ’n Moleskine notaboek gebruik nie. Alhoewel hulle pragtig is en baie lekker is om in te skryf, wil ek nie so ’n duur notaboek vir my daaglikse take gebruik nie.
’n Bietjie digitale hulp...
Ek het ook ’n bietjie digitale hulp nodig, veral wanneer ek skakels vir verskillende projekte bymekaar moet hou en maklik kan opspoor. Hiervoor stel ek twee toepassings voor – Wunderlist en Evernote. Beide se basiese toepassing is gratis en nie te duur indien jy wil opgradeer nie.
Hoewel ek laasjaar probeer het om Wunderlist vir alles by die werk te gebruik, het ek na ’n paar maande besef dat dit vir my beter is om die notas met die hand te skryf en saam met my rond te dra – dan onthou ek sommer ook beter.
Wat wel baie handig is, is dat jy die toepassing ook op jou foon kan gebruik. Dus kan jy al jou lyste heeltyd by jou dra en van jou rekenaar of foon opdateer. Indien jy dus jou lyste digitaal beskikbaar wil hê, sal ek hierdie toepassing aanbeveel.
Indien jy notas en skakels bymekaar wil hou – soos wat ek met projekte moet doen is Evernote bobaas. Hierdie is ’n toepassing wat ek beslis meer gaan gebruik hierdie jaar.

No comments:
Post a Comment