Blou linte
Daar moet reën wees. ’n Regte Hoëveldse
donderstorm met swart wolke, donderweer en die tik-tik van hael op dakke
voordat die ys jou vel steek en op die swart teer val en spring. Die hemel se
trane moet my woede op huise en motors en sambrele moker.
Of dalk moet dit herfs wees. Geel en rooi blare.
Die reuk van vars kompos in die agtertuin. Die appelkoosboom se growwe bas
onder my hande en knieë terwyl ons die boom uitklouter.
Dalk moet dit lente wees. Sonbesies en bye.
Blomme en die reuk van gesnyde gras. Ons wat in die buurman se tuin inklim om
moerbeiblare vir ons sywurms in hulle leë ontbytpapbokse te pluk. Ons wat
giggel terwyl ons die blare van die lae takke stroop. Donkerpers moerbeivlekke
op vingers, monde en kaal voete. Jy het altyd blou linte in jou hare gehad.
Maar daar is nie reën nie. Nie blare nie. Nie
sonbesies nie.
Net ’n brandende somerson. Die
begrafnisondernemer se oprit. ’n Gesig by die sekuriteitshek.
Ek gee die bondel vir die vrou. Die geplooide,
bewende hand voel nie soos myne nie. Net ’n oomblik gelede was ons kinders wat
speel-speel deur tuine hardloop. Saam.
“Blou linte,” sê ek. “Vir haar hare.”
Vir ’n oomblik ruik ek moerbeie.
No comments:
Post a Comment