Ek is mal daaroor om handgeskrewe name, datums of boodskappe binne boeke te vind‡. Een van my geliefste boeke (The Children of Hurin deur J.R.R. Tolkien) het ’n inskrywing deur my oorlede ma in ek verwonder my altyd aan name of boodskappe binne tweedehandse boeke of boeke wat aan biblioteke geskenk is. (Hoe ouer, hoe beter, in my beskeie opinie.)
Om geskiedenis aan te raak
Die vorige keer wat ek die universiteitsbiblioteek besoek het, het ek inskrywings in twee van die boeke wat ek gebruik het gevind. Wat dit interessanter maak, is dat ek die eerste persoon is om die boeke uit te neem sedert hulle geskenk is. (Maar ek moet bieg dat dit redelik gereeld gebeur aangesien my studies nou nie juis “hoofstroom” is nie.) Maar terug na die boeke.
Donasie van ’n skat
Die eerste boek is ‘n 1928-uitgawe van die Nederlandse gedig Mei (deur Herman Gorter), wat aan die biblioteek geskenk is deur ene Mev. de Bruyn. Die boekplaat se voorkoms – met die ou naam van die universiteit* (en die gebruik van die afkorting “mevr.”) sou beteken dat die boek ’n redelike aantal jare gelede geskenk is.
Haar naam (hoewel ek nie doodseker is dat sy dit self geskryf het nie) is in pragtige sierskrif aangebring saam met “Pretoria” en die datum “1/7/29” (as ek dit reg kan uitmaak). Die ink het al met tyd vervaag soos die papier stadig verbruin het en vertoon nou byna as ’n watermerk.
Soos ek deur die boek blaai het ek op ’n “boekmerk” afgekom. Die boekmerk is maar net ’n stukkie donkerkleurige wol, aan die een kant met ’n skêr geknip en aan die ander kan blykbaar met die hand gebreek, is tussen blaaie geplaas wat die enigste merke (sover ek kon sien) in die boek bevat. Ek wonder of hierdie twee reëls deur Mev. de Bruyn self aangebring is en watter betekenis dit vir die leser gehad het?
Ek moet sê dat ek verbaas was om hierdie boek op die oop rakke te vind!
’n Naam wat ek nie kan uitmaak nie
Die tweede boek bevat ook ’n naam en datum, maar ek kan net die datum – 1914 – en nie die naam uitmaak nie. Hierdie boek bevat ongelukkig nie, soos die vorige, ’n boekplaat nie. Die boek, Geschiedenis der Noord-Nederlandsche Letteren in de XIXe Eeuw in biographieën en bibliographieën, 1830 – 1900, het ’n pragtige titelplaat van die skrywer, Dr. Jan ten Brink (1834 – 1901), met ’n ernstige uitdrukking en baie indrukwekkende snor.
Ongelukkig hou die biblioteek nie rekord van die donateurs nie. Dus het ek geen manier om uit te vind wie Mev. de Bruyn is of watter ander boeke sy dalk geskenk het nie. Dít laat my natuurlik met ’n effense raaisel – en wys ook net hoe nuuskierig ek kan wees wanneer dit by boeke kom…
‡ Ek wil net een ding duidelik maak: hierdie sluit nie die ontsiering van boeke in nie (alhoewel dit opsigself ook ’n storie kan vertel).
* RAU is nou deel van die Universiteit van Johannesburg.
No comments:
Post a Comment