Thursday, February 13, 2014

Resensie: ’n Ander land deur Karel Schoeman

’nAnder land is ’n puik voorbeeld van Afrikaanse letterkunde. Dit vertel die verhaal van Versluis, ’n Nederlander, wat aan die einde van die negentiende eeu na Suid-Afrika (en spesifiek Bloemfontein) reis om van ongesteldheid te herstel. Soos vele ander sulke reisigers arriveer hy byna dood en word deur mede-passasiers na ’n plaaslike hotel geneem om versorg te word. Terwyl sy gesondheid verbeter verken hy die dorp, beleef die omliggende veld en leer verskeie van die inwoners ken.
Deurgaans word die simboliek van lig en donker, lewe en dood en saam wees teenoor eensaamheid vervleg tot ryk leesstof wat die leser dwing om ook na sy/haar eie lewe met nuwe oë te kyk. Verdere teenstelling word gevind in die soeke na identiteit – dié van Versluis, maar ook die nuwe immigrante wat reeds hulle in Afrika gevestig het en die eerste generasie wat hier gebore word. Hierdie soeke na ’n nuwe identiteit word reeds vroeg in die boek verwoord:
“Ons is hier nie meer Afrika nie, maar dit is ook nie meer Europa nie, daar is te veel verskillende wêrelde wat langs mekaar bestaan, en uiteindelik is daar geeneen waarin jy tuishoort en waarin jy weet hoe om jou te handhaaf nie...”
(Schoeman, 2006:33)

Versluis veg teen die dood in ’n nuwe land en nuwe lewe waarin hy ontuis voel. Verder speel ’n besef van sy eie verganklikheid af saam met die verandering van die seisoene. Ook hier word die seisoene met dié van Europa vergelyk om verdere teenstelling tussen Europa en Afrika te toon. Die inwoners lewer self kommentaar oor hulle aanhang van Europese letterkunde en musiek in die “nuwe land”, asook die onvermoë om onveranderd na Europa terug te keer:
“Mens sal seker nooit weer teruggaan nie, ne? Om hier te kom, is maklik genoeg, maar om terug te gaan en weer aan te gaan met jou lewe daar, dis ’n ander saak.”
(Schoeman, 2006:152)

Die nuwe generasie wat in Afrika gebore word se identiteitskrisis – veral soos gesien deur die immigrante – word ook verwoord:
“... hulle is met ander woorde die eerste generasie burgers van ’n land wat nog kort gelede nog niks meer as onbewoonde wildernis was nie. Hulle verkeer is ’n posisie wat moeilik maar terselfdertyd ook uitdagend is – aan die een kant het hulle geen ware bande met Europa nie; dis ’n verre wêrelddeel waarvan hulle nog slegs gehoor het; maar aan die ander is hulle ook nog nie ten volle in hierdie nuwe land ingeburger nie.”
(Schoeman, 2006:178)

Met al die simboliek en inmekaargevlegte temas, is ’n Ander land die verhaal van een man se lewe en sy soeke na identiteit en ’n vaste tuiste. Hierdie reis raak die leser en bly hom/haar by lank nadat die boek voltooi is en is werklik ’n boek wat gelees moet word.

9 uit 10


’nAnder land se 2006 Human& Rousseau Klassiek-uitgawe is aanlyn by Kalahari, Exclusive Books en Takealot beskikbaar vir tussen R173 en R220.

No comments:

Post a Comment