Showing posts with label taal. Show all posts
Showing posts with label taal. Show all posts

Thursday, July 16, 2015

Afrikaans, tegnologie en nuwe woorde: ’n paar gedagtes

Die mate waartoe ’n taal kan groei en verander – veral kleiner tale – moet nie onderskat word nie, selfs nie in die geglobaliseerde wêreld waarin ons vandag woon nie. Daar moet, byvoorbeeld, nie aangeneem word dat almal Engels magtig is nie. Dit is ook nie nodig om slegs Engels te gebruik nie, veral nie as die nodige terminologie in ander tale beskikbaar is nie. Indien daar nie terminologie beskikbaar is nie (soos die geval is met, byvoorbeeld, tegnologie wat so vinnig verander), kan daar werk van gemaak word om hierdie terminologie te skep. Daar blyk egter die veronderstelling te wees dat sekere terminologie nie in sekere tale kan bestaan nie. Dít is egter onsin.

Foto: Gratisography
Elke dag word nuwe woorde geskep of bestaande woorde aangepas deur die sprekers van die taal. Daar is ’n kans vir kreatiewe, speelse neologismes en om die “gevoel” van die taal in hierdie nuwe woorde oor te dra. Ons twiet, hou van blaaie en luister na ’n potgooi. Ons neem ’n kiekie van die rekenaarskerm en draadloos verwys nie meer net na ’n radio nie. Ons wil Facebook en Google in Afrikaans sien. In plaas daarvan dat die taal stilstaan en stof opgaar, groei en gedy dit elke dag. 

Die vorming van nuwe woorde is eintlik ’n wonderlike manier om die taalgemeenskap in aksie te sien. Deur ook ’n Afrikaanse gebruikerkoppelvlak vir soveel programme as moontlik te skep kan ander tale ook dié voorbeeld volg en hulle eie tale op hierdie manier aanwend en laat groei.


Taal is tog daar om aan sprekers se behoeftes te voldoen – hoekom sal ons dit nou nie ten volle benut nie?

Monday, May 27, 2013

Oordenkings: Vertaling, gedagtes, wysheid en kennis

(Deel 1)

Biskop Wulfila, wat die Bybel in Goties vertaal het
Linguistiek – en veral toegepaste linguistiek – is my passie. Of dalk moet ek eerder sê stories en taal en alles wat daarmee gepaard gaan. Ek onthou hoe my ma (toe ek so vier of vyf jaar oud was) vir ons stories uit Engelse boeke gelees het – maar dat sy die stories in Afrikaans vertaal het soos sy lees. Vir my was dit soos magie. In graad 2 het ek Roald Dahl se boeke ontdek – eers Die GSR voordat ek uitgevind het dat die boek eintlik in Engels geskryf is, waarna ek dit dadelik in Engels óók wou lees. Ek het Dahl se boeke een na die ander in die oorspronklike Engels verslind. En tog onthou ek, dat, toe ek die Afrikaanse vertaling van Charlie and the Chocolate Factory in die skool se biblioteek opgespoor het, ek woedend was en sommer die boek na ’n paar blaaie neergesit het. Teen dié tyd het ek reeds die (Engelse) boek ’n paar keer gelees en wou sien hoe dit in Afrikaans “klink”. Wat my heeltemal afgesit het, was dat die Buckets se van as “Emmer” vertaal is. Mens sou dink dat ek toe al sou geweet het in watter rigting ek moes mik vir ’n loopbaan, maar dit het nog ’n paar jaar gevat (op daardie stadium wou ek ’n paleontoloog word).

’n Paar jaar later
Nou ja, blykbaar kry jy as bleeksiel ekstra “punte” as jy ’n dooie/fiktiewe taal leer. (Die internet is werklik ’n vreemde plek, waar daar tot blaaie is wat jou “stap vir stap” verduidelik hoe om ’n bleeksiel te wees. Maar dit is ’n hele ander gesprek.) In elk geval, in die graad waarmee ek tans besig is, is dit nodig dat ek gedeeltes van die Eddas vertaal.

Alhoewel ’n paar van die Noorse verhale in Afrikaans beskikbaar is (maar dié is ongelukkig ’n paar dekades gelede gepubliseer), is die oorspronklike Oudnoorse tekste nog nie in Afrikaans vertaal nie. ’n Verskeidenheid Engelse vertalings en ’n paar Nederlandse vertalings (om maar net ’n paar tale te noem) is wel beskikbaar, (ek het al hier van die Engelse vertalings voorgestel), maar nie al die vertalings is egter akkuraat nie en, veral wanneer ek korter stukke uit die boeke wil aanhaal, is dit moontlik* om daardie spesifieke gedeelte in Afrikaans te vertaal. Te danke aan baie studies wat myne voorafgaan – en die liewe Internet wat my toegang gee tot elektroniese tekste, is dit moontlik om van gestandariseerde Oudnoorse tekste gebruik te maak as brontekste.

Sodra basies enige teks in jou moedertaal is, lees dit nie net makliker nie, maar verkry dit ook ’n groter, meer tasbare (met die verbeelding) dimensie. Skielik spreek die teks tot jou hart. Een spesifieke strofe uit die gedig Völuspá – een van die belangrikste mitologiese gedigte – gee die volgende strofe as deel van die beskrywing van die wêreldboom Yggdrasill:
Yggdrasil deur Frances Melville

Ek weet ’n esseboom staan daar
wat Yggdrasill heet;
’n geweldige boom, begiet
met wit leem.
Daarvandaan kom die dou
wat in die dale val.
Dit staan ewig groen
bo Urd se Bron.

Dit is nogal baie makliker om te lees as die oorspronklike! 

Ask veit ek standa,
heitir Yggdrasill,
hár baðmr, ausinn
hvítaauri.
Þaðan koma döggvar
Þærs í dala falla.
Stendr æ yfir grœnn
Urðar brunni.**

Vertaling is steeds skeppende werk – jy tik nie die teks by iets soos Google Translate in en die program spoeg ’n professionele, idiomatiese teks uit nie. Jy sit met woordeboeke en naslaanwerke en skuur en skaaf en los die werk vir ’n ruk en kyk dan weer daarna. Vertaling is nie net een woord met ’n ander vervang nie. ’n Vertaler se grootste struikelblok is nie sinskonstruksie nie. Saam met die taal en saam met die teks moet ander aspekte soos konteks, gehoor en ook kultuur in ag geneem word. Dit is nie nét woorde wat oorgedra word nie, maar die gedagtes, wysheid en kennis van ’n ander wêreld.

* Ek het ongelukkig nie soveel tyd tot my beskikking soos ek graag sou wou hê nie.