Voordat ek begin om allerhande stories te plaas, het ek dit goed gedink om met hiérdie inskrywing oor fantasie fiksie weg te spring.
’n Ruk gelede het ek ‘n vraag aan my mede Anomaliane gestel op Where the Map Ends. Dit lees as volg:
Hallo almal,
Ek wonder al ’n ruk hieroor en ek weet nooit regtig wat is die beste antwoord wat ek vir mense (Christen of nie) kan gee wanneer hulle vir my vrae het nie.
Sien, daar is nogal baie mense wat blykbaar glo dat, wanneer jy van fantasie (of wetenskapsfiksie) hou jy nie ’n Christen kan wees nie. Nou, ek weet óns almal weet dat dit net nie waar is nie, maar wat is die beste manier om dit aan mense te verduidelik?
Ek het ’n paar vriende wat slegs feëverhale of selfs net heksery en die bose sien en dink dat, omdat ek van fantasie hou, ek myself met daardie soort goed besig hou.
Ek het al aan hulle gesê om van my goed te lees indien hulle bekommerd is – indien bose en heksery genoem word is dit die “slegte ouens” wat dit gebruik, nié die held nie. Baie van die stories in my wêrelde (soos Airthai) ontwikkel ook langs die lyne van goed en sleg en hoe om “slegte” mag te weerstaan. Vir my maak dit sin dat die held/-in teen groot struikelblokke te staan moet kom, want anders is dit nie die moeite werd nie.
Ek hoop dit maak sin!
Marsh
Ek is seker ek is nie die enigste een wat al hiermee gesukkel het nie. Die Afrikaanse literatuur het ook nie veel fantasie of wetenskapsfiksie nie en alhoewel ander mitologieë (meestal Klassiek) soms in die letterkunde gebruik word, is daar geen hoë of epiese fantasie waarvan ek weet nie. Toe ek my Meestersgraad oor die invloed van Noorse mites op die Afrikaanse literatuur begin het, het ek gou gevind dat ek dit moet uitbrei om Nederlandse letterkunde ook in te sluit sodat ek genoeg tekste het om te studeer! En selfs net met hierdie studie het mense my al gevra of ek in daardie gode glo en wanneer ek weggedraai het van God af!
Dus, wanneer jy ’n Christelike fantasieskrywer is… en jy mites gebruik om ‘n punt te bewys of jou eie mites opmaak… wat sê jy aan hierdie mense?
Ek het hierdie wonderlike antwoord van Sean Rackley ontvang wat ek graag met ander wat dalk in dieselfde bootjie as ek sit wil deel:
Die manier waarop ek hierdie vraag hanteer is om dié wat ook aan die gesprek deelneem Jesus se vergelykings as spekulatiewe fiksie te sien. Dan is die sprong na fantasie en wetenskapsfiksie nie so groot nie. Jesus het die Waarheid aan ’n sterwende wêreld verkondig deur stories te gee waarby hulle kon aanklank vind (ek wonder soms of die stories nie waar is nie as mens kyk na wie die outeur is, maar ek dwaal nou van onderwerp af). Hy het byvoorbeeld ’n landbougemeenskap geleer deur meestal lanboustories te gebruik (soos byvoorbeeld ’n boer wat saad saai).
Ons gehoor is bekend met dinge ver verwyderd van landbou (dus kan die vergelyking van die saaier oorvertel word as ’n kolonialiserende gemeenskap wat veraardsing uitvoer met verskillende resultate op verskillende planete, of as ’n ridder wat sy ryk beskerm teen voëls wat saad steel, klippe en dorings wat per toeval drake, golems en donker elwe – met gepunte pyle is). Gooi ’n paar nodige storie elemente in om dit meer as ’n paar paragrawe lank te maak en voilà! – ’n storie is gebore.
Mense stem steeds nie altyd ooreen nie, maar op daardie tye herinner ek myself daaraan dat God my nie geroep het om te stry hoekom ek skryf nie, net om te skryf. Selfs indien ek die enigste persoon is wat nader aan God kom deur my fiksie en poësie het ek my werk gedoen.
Hierdie stuk het die eerste keer hiér by Hersenskim verskyn.
Inspirasie vir die week
’n Bietjie musiek om die litte los te maak so op die Maandag – Bon Jovi se “It’s My Life”.
No comments:
Post a Comment