Wednesday, June 13, 2012

Fantasie fiksie: Om sondes te beskryf


Hierdie is ’n ouerige stuk wat ek uit die laai gegrawe het. Hierdie is een van dié wat ek wil vertaal in Engels in. Dit is bietjie vreemder as meeste van my goed, maar een van dié waarvan ek persoonlik die meeste hou. Hoop jy geniet dit ook!

Om sondes te beskryf


"Stadig oor die klippe! Daai goed is nie koeldrank nie."
Annelie gluur die kroegman onbeïndruk aan. Haar glas is nog halfvol, maar sy voel reeds lighoofdig en eet maar ‘n paar soutbelaaide skyfies. Die kroegman droog sy hande af en gaan staan voor haar.
"Slegte dag? Nee, wag," keer hy met gespreide hande. "'n Kêrel?" Hy neem self 'n glas in die hand wat hy vul met ys en sodawater. Wanneer stilte hom begroet, probeer hy weer.
"Die afwesigheid van 'n kêrel? Werk?"
Annelie kyk na hom en kners op haar tande. "Vakansie. Eintlik." Sy draai haar moeë weg van hom en kyk na die ander siele wat by die kroeg se toonbank en tafels sit. Die reuk van olierige kos en alkohol sweef in die lug.
"Dan beter jy maar vir ou Tom vertel, jong, dat ek net weet om nie soontoe te gaan nie."
"Ek dink nie jy hoef jouself daaroor te bekommer nie – dit is my kêrel se plaas."
Tom knik sy kop stadig; wetend. "Daai kêrel van jou beter pasop. Netnou gaan spook jy by hom." ‘n Stoute glimlag trek-trek aan sy mond, maar bereik nie sy oë nie. Hy vat ‘n sluk water en leun vorentoe op gevoude arms. "So, wat bring jou na ons plekkie?"
"My kar se band het gebars en ek het nie 'n spaar een nie." Sy tel haar selfoon op en kyk daarna. "Ek het die AA gebel, hulle sal seker nou hier wees. My kêrel ook," voeg sy vinnig by.
"Seker," stem hy saam. "As hulle die oproep ontvang het."
Sy kyk weer rond en probeer om haar nie aan die vent te steur nie. Dit is koud binne die kroeg al gooi die somerson goue hale oor die vloer en mure. Haar oë val op 'n man wat alleen sit. Oor sy skouers hang 'n lang, grys jas oor sy skouers. Die hemp en broek wat hy aanhet het al beter dae gesien en is, nes sy skoene, met modder bespat. 'n Koffer vol papiere lê oop op die vloer langs hom. Voor hom is nog 'n stapel papiere. Hy is besig om ‘n bladsy met sy vinnige, morsige skrif te vul; blind en doof vir die ander mense in die kroeg.
Elke rukkie skud hy sy pen, skryf nog ‘n woord of twee en ruil dit dan om vir een van die ander penne voor hom. Hy kyk nie een keer op nie. Nie eens toe Tom 'n blikkie koeldrank langs hom neersit nie.
"Hy sit elke dag hier," sê Tom oplaas.
"Wat skryf hy?" vra Annelie.
"Sy lewensverhaal." Tom neem nog 'n sluk water, trek 'n gesig en gooi nog ys by.
"Hoe lank is hy al besig?"
Tom trek sy skouers op. "'n Paar jaar. Elke rukkie vergeet hy iets. Dan gaan hy terug. 'n Dag, 'n nag, dan sit hy weer hier en skryf. Hy’s al amper klaar, mind you. Trek al amper by die dag van sy ongeluk."
"Ongeluk?" vra sy al voel sy skuldig om die man so te sit en te bespreek.
"Ja, arme siel, hy het sy kar heeltemal afgeskryf. Drie ander ook. Ek neem maar aan daar’s mense dood. Hy't dronk bestuur - dis hoekom hy nou net koeldrank drink."
"En hy het oorleef?"
"Hy probeer vrede maak. Gee die ou 'n kans."
'n Kelnerin kom deur die swaaideur van die kombuis gestap. Sy trek haar vingers deur haar blonde hare wat in 'n slordige bolla vasgebind is en maak haar donker wortels meer opmerklik. "Hy sal nooit vrede maak nie," sê sy en plak die skinkbord op die kroegtoonbank neer.
"Jy's een om te praat," antwoord Tom vies. "Jy's al langer hier as ek. Jy't te veel anger-issues om hier weg te kom."
Sy grou 'n sigaret uit haar sak en loop weg.
"En jy? Wat maak jy hier?" waag Annelie die vraag.
Hy gooi nog ysblokkies in sy glas. Sy oë is vaag, asof hy diep dink. "Ek? Ek werk net - wag vir iemand om vir my te wys waarheen nou, jy weet. Te veel ambisie kan sleg wees vir mens se gesondheid."
Weer die vreemde glimlag sonder dat sy oë saam lag.
"Watse ambisie?"
"Om 'n Springbok te wees. Een tackle - toe's my nek af."
"Shame, man, ek voel vir jou."
Hy sit sy glas hard neer en van die water spat uit. "Ek wag vir daai ou om hier in te kom, dan gaan ek vir hom sê – wel, ek kan nie so voor 'n dame praat nie."
Annelie lag. "Nog maniere ook? Pas op, meisies, hier's nou vir jou 'n catch!"
Die skrywer met die grys jas smyt sy pen neer en vee met een haal al die papiere van die tafel af. Hy staar strak na die muur en ruk asof hy iets afgrysliks sien, maar nie kan wegkyk nie. ‘n Gil ontsnap uit sy keel. Hy kom regop en slinger val-val by die deur uit.
Tom gooi weer sy glas ongeërg vol.
"Wat was dit?" Annelie weet nie of sy moet bly sit of die man moet volg nie.
"Hy het die ongeluk onthou," sê Tom en draai weg.
Annelie sit ‘n R50-noot op die toonbank neer. "Ek’s nou terug," sê sy en gaan agter die man aan.

Buite is die straat besig, maar Annelie herken maklik die grys jas tussen die ander mense. Hy staan en kyk na iets naby die ambulansligte op die hoek van die straat. Ander mense drom ook daar saam. Annelie loop stadig nader. 'n Kar is om 'n paal gevou, die voorruit stukkend, die metaal verwring. Die man in die jas begin praat toe sy langs hom stop.
"Sien jy, die band het gebars. Mens moenie briek trap nie, dan verloor jy éérs beheer."
Annelie staar na die verfrommelde motor en haar bebloede gesig agter die stuurwiel.
"Jy’t seker nie geweet wat jou getref het nie, nè?" vra hy.
"Nee."
"Is jy reg om te gaan, of wil jy nog kuier?" vra hy. “Tom sal van die geselskap hou.”
"Wat van jou?"
Hy lig sy skouers. "Ek moet nog my storie klaar skryf. Op wit en swart sal ek kan vrede maak met myself. Dalk. Dis die laaste stap, jy weet. Die ander mense het al lankal aan beweeg. Dis net ek wat nog hier sit en my sondes beskryf." Hy sit sy hand op haar skouer. "Maar dis oukei, jy weet, die ink moet net hou."
Annelie grou in haar handsak en haal haar pen uit wat sy vir hom gee. "Sê vir Tom ek sê bye." Sy kyk die laaste keer na haar gesig en loop na die lig.

**


Foto verkry by: http://www.sxc.hu

No comments:

Post a Comment