Showing posts with label skryfwerk. Show all posts
Showing posts with label skryfwerk. Show all posts

Wednesday, November 12, 2014

Nanowrimo en ander goeters

Ek neem hierdie jaar – ná ek al vir ’n paar jaar dreig – aan Nanowrimo (National Novel Writing Month) deel. Die roman waarmee ek besig is, sluit aan by verhale soos die onderstaande wat ek reeds geskryf het. My blaai op die Nanowrimo-webwerf ishier.

Artikels by dosyne
Verder skryf ek nou op ’n gereelde basis kort artikels vir verskeie webtuistes (wat beslis ook goeie oefening is!). Kliek hier vir dié artikels se skakels.

Vonkfiksie

Ek geniet dit terdeë om weekliks ’n vonkfiksie verhaal vir Flash Friday te skryf. Die verhale (ongelukkig almal in Engels, maar ek werk daaraan) kan op hierdie blaai gelees word.


Wednesday, October 24, 2012

Wêreldbou Woensdag – Draaktrane

Deel 1 - die indigo stene


Ek het reeds ‘n paar stukkies stories geplaas oor die drake van Airthai en daarin is daar sprake van die sogenaamde “draaktrane”. Hierdie draaktrane speel ook ‘n redelike groot rol in die kortverhaal “A Dragon’s Freedom”.

Draaktrane is stene of half edelgesteentes wat gevorm word wanneer die trane van die drake in Airthai verhard soos wat dit in aanraking kom met die lug. Hierdie draaktrane kom voor waarookal drake woonagtig is of waar hulle gewoon het. Daar is verskillende soorte draaktrane wat verskillende kleure is en wat verskillende gebruike vir die drake en die drake se bewakers het. Hieronder word die verskillende stene genoem, saam met ’n beskrywing van die funksie daarvan.
Hierdie week gaan ek die indigo stene beskryf en volgende week die res van die soorte draaktrane.

Die indigo stene 
Hierdie stene word meestal in die Middellande gesien en is ook daar die bekendste. Die indigo stene is by verre die algemeenste van die draaktrane en word dus gewoonlik net “draaktrane” genoem, terwyl die ander kleure elk ’n ander naam of name besit.

"Indigo trane word gestort wanneer drake in
rou is of gevange is"
Indigo trane word gestort wanneer drake in rou is of gevange is – soos gebeur het in die koninkryk van Guldargan. Vir dié wat nie die woorde ken waarmee die stene aan die brand gesteek kan word nie is die stene slegs versiering en is veral gesog omdat dit selfs in die donker met ’n lig van binne gloei. In sommige plekke word die stene selfs gebruik vir beligting in die rykste huise – veral die wat in die stad Marglóthborg gevind word. Die gloei van die stene word ook gesien in die grotte onder Treddian en in die tonnels van Holt Haliern, maar die bestaan van groot hoeveelhede van die stene word streng geheim gehou deur die Bewakers van Holt Haliern en die konings van Treddian.

Baie van die stene onder Holt Haliern en die stad Adea in Treddian is trane wat deur die drake in die moerasse noord van die Grootwoud gestort is deur die wilde drake wat daar gewoon het nadat Nasja die drake in Guldargan vrygelaat het. Hulle het daar gerou omdat hulle nie na die see terug kon keer nie en ook vir die drake wat daar en in die Middellande gedood is. Hierdie stene het mettertyd in die strome beland wat na die ondergrondse riviere van die Grootwoud gelei het. Hierdie strome loop onder Holt Haliern deur, deur tonnels en grotte na Treddian.



*Foto van Ioliet deur "Clever Girl Style"

Wednesday, June 13, 2012

Fantasie fiksie: Om sondes te beskryf


Hierdie is ’n ouerige stuk wat ek uit die laai gegrawe het. Hierdie is een van dié wat ek wil vertaal in Engels in. Dit is bietjie vreemder as meeste van my goed, maar een van dié waarvan ek persoonlik die meeste hou. Hoop jy geniet dit ook!

Om sondes te beskryf


"Stadig oor die klippe! Daai goed is nie koeldrank nie."
Annelie gluur die kroegman onbeïndruk aan. Haar glas is nog halfvol, maar sy voel reeds lighoofdig en eet maar ‘n paar soutbelaaide skyfies. Die kroegman droog sy hande af en gaan staan voor haar.
"Slegte dag? Nee, wag," keer hy met gespreide hande. "'n Kêrel?" Hy neem self 'n glas in die hand wat hy vul met ys en sodawater. Wanneer stilte hom begroet, probeer hy weer.
"Die afwesigheid van 'n kêrel? Werk?"
Annelie kyk na hom en kners op haar tande. "Vakansie. Eintlik." Sy draai haar moeë weg van hom en kyk na die ander siele wat by die kroeg se toonbank en tafels sit. Die reuk van olierige kos en alkohol sweef in die lug.
"Dan beter jy maar vir ou Tom vertel, jong, dat ek net weet om nie soontoe te gaan nie."
"Ek dink nie jy hoef jouself daaroor te bekommer nie – dit is my kêrel se plaas."
Tom knik sy kop stadig; wetend. "Daai kêrel van jou beter pasop. Netnou gaan spook jy by hom." ‘n Stoute glimlag trek-trek aan sy mond, maar bereik nie sy oë nie. Hy vat ‘n sluk water en leun vorentoe op gevoude arms. "So, wat bring jou na ons plekkie?"
"My kar se band het gebars en ek het nie 'n spaar een nie." Sy tel haar selfoon op en kyk daarna. "Ek het die AA gebel, hulle sal seker nou hier wees. My kêrel ook," voeg sy vinnig by.
"Seker," stem hy saam. "As hulle die oproep ontvang het."
Sy kyk weer rond en probeer om haar nie aan die vent te steur nie. Dit is koud binne die kroeg al gooi die somerson goue hale oor die vloer en mure. Haar oë val op 'n man wat alleen sit. Oor sy skouers hang 'n lang, grys jas oor sy skouers. Die hemp en broek wat hy aanhet het al beter dae gesien en is, nes sy skoene, met modder bespat. 'n Koffer vol papiere lê oop op die vloer langs hom. Voor hom is nog 'n stapel papiere. Hy is besig om ‘n bladsy met sy vinnige, morsige skrif te vul; blind en doof vir die ander mense in die kroeg.
Elke rukkie skud hy sy pen, skryf nog ‘n woord of twee en ruil dit dan om vir een van die ander penne voor hom. Hy kyk nie een keer op nie. Nie eens toe Tom 'n blikkie koeldrank langs hom neersit nie.
"Hy sit elke dag hier," sê Tom oplaas.
"Wat skryf hy?" vra Annelie.
"Sy lewensverhaal." Tom neem nog 'n sluk water, trek 'n gesig en gooi nog ys by.
"Hoe lank is hy al besig?"
Tom trek sy skouers op. "'n Paar jaar. Elke rukkie vergeet hy iets. Dan gaan hy terug. 'n Dag, 'n nag, dan sit hy weer hier en skryf. Hy’s al amper klaar, mind you. Trek al amper by die dag van sy ongeluk."
"Ongeluk?" vra sy al voel sy skuldig om die man so te sit en te bespreek.
"Ja, arme siel, hy het sy kar heeltemal afgeskryf. Drie ander ook. Ek neem maar aan daar’s mense dood. Hy't dronk bestuur - dis hoekom hy nou net koeldrank drink."
"En hy het oorleef?"
"Hy probeer vrede maak. Gee die ou 'n kans."
'n Kelnerin kom deur die swaaideur van die kombuis gestap. Sy trek haar vingers deur haar blonde hare wat in 'n slordige bolla vasgebind is en maak haar donker wortels meer opmerklik. "Hy sal nooit vrede maak nie," sê sy en plak die skinkbord op die kroegtoonbank neer.
"Jy's een om te praat," antwoord Tom vies. "Jy's al langer hier as ek. Jy't te veel anger-issues om hier weg te kom."
Sy grou 'n sigaret uit haar sak en loop weg.
"En jy? Wat maak jy hier?" waag Annelie die vraag.
Hy gooi nog ysblokkies in sy glas. Sy oë is vaag, asof hy diep dink. "Ek? Ek werk net - wag vir iemand om vir my te wys waarheen nou, jy weet. Te veel ambisie kan sleg wees vir mens se gesondheid."
Weer die vreemde glimlag sonder dat sy oë saam lag.
"Watse ambisie?"
"Om 'n Springbok te wees. Een tackle - toe's my nek af."
"Shame, man, ek voel vir jou."
Hy sit sy glas hard neer en van die water spat uit. "Ek wag vir daai ou om hier in te kom, dan gaan ek vir hom sê – wel, ek kan nie so voor 'n dame praat nie."
Annelie lag. "Nog maniere ook? Pas op, meisies, hier's nou vir jou 'n catch!"
Die skrywer met die grys jas smyt sy pen neer en vee met een haal al die papiere van die tafel af. Hy staar strak na die muur en ruk asof hy iets afgrysliks sien, maar nie kan wegkyk nie. ‘n Gil ontsnap uit sy keel. Hy kom regop en slinger val-val by die deur uit.
Tom gooi weer sy glas ongeërg vol.
"Wat was dit?" Annelie weet nie of sy moet bly sit of die man moet volg nie.
"Hy het die ongeluk onthou," sê Tom en draai weg.
Annelie sit ‘n R50-noot op die toonbank neer. "Ek’s nou terug," sê sy en gaan agter die man aan.

Buite is die straat besig, maar Annelie herken maklik die grys jas tussen die ander mense. Hy staan en kyk na iets naby die ambulansligte op die hoek van die straat. Ander mense drom ook daar saam. Annelie loop stadig nader. 'n Kar is om 'n paal gevou, die voorruit stukkend, die metaal verwring. Die man in die jas begin praat toe sy langs hom stop.
"Sien jy, die band het gebars. Mens moenie briek trap nie, dan verloor jy éérs beheer."
Annelie staar na die verfrommelde motor en haar bebloede gesig agter die stuurwiel.
"Jy’t seker nie geweet wat jou getref het nie, nè?" vra hy.
"Nee."
"Is jy reg om te gaan, of wil jy nog kuier?" vra hy. “Tom sal van die geselskap hou.”
"Wat van jou?"
Hy lig sy skouers. "Ek moet nog my storie klaar skryf. Op wit en swart sal ek kan vrede maak met myself. Dalk. Dis die laaste stap, jy weet. Die ander mense het al lankal aan beweeg. Dis net ek wat nog hier sit en my sondes beskryf." Hy sit sy hand op haar skouer. "Maar dis oukei, jy weet, die ink moet net hou."
Annelie grou in haar handsak en haal haar pen uit wat sy vir hom gee. "Sê vir Tom ek sê bye." Sy kyk die laaste keer na haar gesig en loop na die lig.

**


Foto verkry by: http://www.sxc.hu

Wednesday, June 6, 2012

Idees by dosyne


Ek sien gister op ’n e-pos vanaf www.woes.co.za dat daar elke week ’n “woord van die week” gegee gaan word waaroor inskrywings gemaak kan word:


Elke week, Dinsdag, sal daar ‘n nuwe woord of woorde bekend gestel word waaroor jy dan enige tipe bydrae kan lewer. Die woord/e gaan of met ‘n spesiale geleentheid te doen hê of met nuusgebeure ens. So kan ons bydraes lewer wat aansluit met wat tans in die regte wêreld gebeur.


Ek nooi almal uit om deel te wees van hierdie projek en ‘n bydrae te lewer tot dit. As die belangstelling groei, sal daar meer gereeld as net een maal per week projekte geloods word. Die reël wat gevolg moet word is dat die woord/e wat vir ‘n projek aangewys word in die titel asook die res van die bydrae moet verskyn.


Dus, vir die aansienlike toekoms, dink ek gaan ek probeer om weekliks ’n stukkie flitsfiksie te skryf – net vir die oefening. Hierdie stukkie sal dan op Vrydae geplaas word vir Vrydag Fiksie. Mens weet ook nooit – van hierdie idees sal seker opregte stories word wat ek weer sal verwerk vir moontlike publikasie.

Meer oor die “woord van die week” kan hier gelees word en, as jy self ’n skrywer is, sluit sommer ook by Woes se kreatiewe werkruimte aan!

Intussen lê ’n paar stories en wag vir  om klaar geskryf te word, geproeflees te word, of, in een geval, oorgeskryf te word. Maar vir eers moet hierdie paar wag totdat ek genoeg van hulle vergeet het om met nuwe oë daarna te kyk. ’n Ander storie (’n kortverhaal wat in die wêreld van Airthai afspeel) is ’n stukkie reeds van geskryf, maar ek gaan die res eers puntsgewys moet uitskryf sodat ek spesifiek weet waarheen ek op pad is – anders gooi ek netnou ’n groot deel geskiedenis by die venster uit!

En, natuurlik, neem studies die meeste van my tyd buite werk op – maar die vordering is darem daar!

Tot later, groetnis!

Friday, June 1, 2012

Talent en verbeelding


Ek het hierdie drie video’s opgespoor en gedink dit is perfek vir ‘n Vrydag – veral vir dié wat ook die naweek gaan spandeer om te skryf, te studeer of om skeppend te wees.





Ek is ook besig om na hierdie boek se oudio-weergawe te luister – te danke aan Audible – en ek moet sê dat sover fassinerend is.



Friday, May 18, 2012

Spoke, boontjieranke en wolhaarstories


Skryfpraatjies 
Wat ’n week! Met die winter wat vinnig nader kom word dit definitief moeiliker om in die aand te werk. Maar dié wat my onlangse twiets gesien het, sou sien dat ek deesdae meer werk (en studiewerk) in die oggend gedoen kry. Dit is nou nie omdat ek vroeër opstaan nie, maar omdat ek later begin werk. Dít gee my ten minste ’n halfuur in die oggend om te skryf voorday ek moet werk toe gaan. In dié tyd het ek dit reggekry om die volgende weergawe van ’n “WIP” klaargemaak waarvoor ek Jan en die boontjierank as inspirasie gebruik. Ek het dit vir ’n paar vriende gegee om te lees en oor kommentaar te gee voordat ek dit weer deurwerk en hopelik gepubliseer kry. Ek het ook ’n ander stuk klaargemaak en gestuur vir moontlike Suid-Afrikaanse publikasie. Nou hou ek net duime vas.

Ek is ook besig met ’n paar ander, korter stukke waaraan ek gaan werk terwyl die “boontjierank” storie vir ’n week of twee in ’n laai lê.

Zombies! Spoke! En ander studiegoeters 
My ander fokus hierdie jaar is natuurlik my studies. Ek gaan die naweek weer op ’n Groot Biblioteekekskursie met ’n lang lys van goed om te doen (en ’n lang speellys van studiemusiek).

Ek het ook lekker gelag hierdie week terwyl ek aan my essay werk. Die droë humor van die skrywer van die Eyrbyggja Saga laat my altyd krul van die lag. Een deel wat my veral laat lag het is in hoofstuk 54, getiteld “More Ghosts”. Nadat ’n groep mans wat gaan visvang het verdrink, keer hulle terug na die plaas elke aand om by die vuur te sit:
Thorodd and his men walked across the main room, which had two doors, and into the living room. They ignored the greetings people gave them and sat down at the fire. The people ran out of the living-room, but Thorodd and his men stayed on until the fire began to burn very low, then went away. As long as the funeral feast lasted this continued: every evening the drowned men would come to the fire. It gave people at the feast plenty to talk about, but some of them thought it would stop once the feast was over. 

Aanhaling geneem uit Eyrbyggja Saga, vertaal deur Hermann Pálsson en Paul Edwards, gepubliseer deur Penguin Classics.

Norsemen Landing in Iceland, deur H. A. Guerber


Tuesday, January 4, 2011

A New Start! / 'n Nuwe begin!

A new start, a new year, a new chance to ‘get it right’. I have heard some resolutions for 2011, read some resolutions and even made some resolutions. The most important to me is that I want to grow in faith and grow closer to God. I want to serve Him in everything I do.


n Nuwe begin, ‘n nuwe jaar, ‘n nuwe kans om dit ‘reg te doen’. Ek het al ‘n paar nuwejaarsvoornemens vir 2011 gehoor, ‘n paar gelees en ook self ‘n paar gemaak. Die belangrikste een vir my is dat ek in my geloof en nader aan God wil groei. Ek wil Hom dien in alles wat ek doen.

Foremost in my working life will be work on my Masters Degree. After a very bumpy start I simply have to get down and write, research, write some more and spend days locked in a high tower with only my study materials and study music for company. No princes or heroes will be allowed near the tower to steal me away! Mwahaha!

Voorop in my werkslewe sal werk aan my Meestersgraad wees. Na ‘n onstuimige begin moet ek met ‘n stink spoed skryf, navors, nog skryf en dae lank opgesluit in ‘n toring sit met net my studie materiaal en studie musiek vir geselskap. Geen prinse of helde sal naby die toring toegelaat word om my weg te raap nie! Mwahaha!

But while that does not mean that I do not want to better my writing, it does mean that I have to cut out any needless dawdling. One of my main resolutions is to spend less time in shopping centers – it is far too easy to get side-tracked with three book shops in the vicinity!

Maar alhoewel dit beteken nie dat ek nie ook my skryfvaardighede wil verbeter nie, beteken dit wel dat ek nodelose voetslepery moet uitsluit. Een van my resolusies is om minder tyd by winkelsentrums deur te bring – dit is veels te maklik om die pad byster te raak met drie boekwinkels in die omtrek!

May everyone have a blessed 2011!

Mag ‘n ieder en ‘n elk ‘n geseënde 2011 hê!