Ek het reeds ‘n paar stukkies stories geplaas oor die drake van Airthai en daarin is daar sprake van die sogenaamde “draaktrane”. Hierdie draaktrane speel ook ‘n redelike groot rol in die kortverhaal “A Dragon’s Freedom”.Draaktrane is stene of half edelgesteentes wat gevorm word wanneer die trane van die drake in Airthai verhard soos wat dit in aanraking kom met die lug. Hierdie draaktrane kom voor waarookal drake woonagtig is of waar hulle gewoon het. Daar is verskillende soorte draaktrane wat verskillende kleure is en wat verskillende gebruike vir die drake en die drake se bewakers het. Hieronder word die verskillende stene genoem, saam met ’n beskrywing van die funksie daarvan.
Hierdie week gaan ek die indigo stene beskryf en volgende week die res van die soorte draaktrane.
Die indigo stene
Hierdie stene word meestal in die Middellande gesien en is ook daar die bekendste. Die indigo stene is by verre die algemeenste van die draaktrane en word dus gewoonlik net “draaktrane” genoem, terwyl die ander kleure elk ’n ander naam of name besit.
![]() |
| "Indigo trane word gestort wanneer drake in rou is of gevange is" |
Baie van die stene onder Holt Haliern en die stad Adea in Treddian is trane wat deur die drake in die moerasse noord van die Grootwoud gestort is deur die wilde drake wat daar gewoon het nadat Nasja die drake in Guldargan vrygelaat het. Hulle het daar gerou omdat hulle nie na die see terug kon keer nie en ook vir die drake wat daar en in die Middellande gedood is. Hierdie stene het mettertyd in die strome beland wat na die ondergrondse riviere van die Grootwoud gelei het. Hierdie strome loop onder Holt Haliern deur, deur tonnels en grotte na Treddian.
*Foto van Ioliet deur "Clever Girl Style"


No comments:
Post a Comment