Showing posts with label Wêreldbou Woensdag. Show all posts
Showing posts with label Wêreldbou Woensdag. Show all posts

Wednesday, October 24, 2012

Wêreldbou Woensdag – Draaktrane

Deel 1 - die indigo stene


Ek het reeds ‘n paar stukkies stories geplaas oor die drake van Airthai en daarin is daar sprake van die sogenaamde “draaktrane”. Hierdie draaktrane speel ook ‘n redelike groot rol in die kortverhaal “A Dragon’s Freedom”.

Draaktrane is stene of half edelgesteentes wat gevorm word wanneer die trane van die drake in Airthai verhard soos wat dit in aanraking kom met die lug. Hierdie draaktrane kom voor waarookal drake woonagtig is of waar hulle gewoon het. Daar is verskillende soorte draaktrane wat verskillende kleure is en wat verskillende gebruike vir die drake en die drake se bewakers het. Hieronder word die verskillende stene genoem, saam met ’n beskrywing van die funksie daarvan.
Hierdie week gaan ek die indigo stene beskryf en volgende week die res van die soorte draaktrane.

Die indigo stene 
Hierdie stene word meestal in die Middellande gesien en is ook daar die bekendste. Die indigo stene is by verre die algemeenste van die draaktrane en word dus gewoonlik net “draaktrane” genoem, terwyl die ander kleure elk ’n ander naam of name besit.

"Indigo trane word gestort wanneer drake in
rou is of gevange is"
Indigo trane word gestort wanneer drake in rou is of gevange is – soos gebeur het in die koninkryk van Guldargan. Vir dié wat nie die woorde ken waarmee die stene aan die brand gesteek kan word nie is die stene slegs versiering en is veral gesog omdat dit selfs in die donker met ’n lig van binne gloei. In sommige plekke word die stene selfs gebruik vir beligting in die rykste huise – veral die wat in die stad Marglóthborg gevind word. Die gloei van die stene word ook gesien in die grotte onder Treddian en in die tonnels van Holt Haliern, maar die bestaan van groot hoeveelhede van die stene word streng geheim gehou deur die Bewakers van Holt Haliern en die konings van Treddian.

Baie van die stene onder Holt Haliern en die stad Adea in Treddian is trane wat deur die drake in die moerasse noord van die Grootwoud gestort is deur die wilde drake wat daar gewoon het nadat Nasja die drake in Guldargan vrygelaat het. Hulle het daar gerou omdat hulle nie na die see terug kon keer nie en ook vir die drake wat daar en in die Middellande gedood is. Hierdie stene het mettertyd in die strome beland wat na die ondergrondse riviere van die Grootwoud gelei het. Hierdie strome loop onder Holt Haliern deur, deur tonnels en grotte na Treddian.



*Foto van Ioliet deur "Clever Girl Style"

Wednesday, October 10, 2012

Wêreldbou Woensdag - Write About Dragons

Ek het afgekom op hierdie webwerf verlede week – Write About Dragons. Dit bevat video's van kreatiewe skryfklasse wat deur Brandon Sanderson (skrywer van, onder andere, Elantris en die Mistborn-boeke) aangebied is. Ek het nog nie kans gehad om na al die video's te kyk nie, maar dit lyk na 'n baie goeie hulpmiddel.

Hier is die eerste video om jou 'n idee te gee van wat om te verwag.


Wednesday, August 1, 2012

Wêreldbou Woensdag – Ameragh, Dienares van die Lig


Kliek hier om die vorige wêreldbou gedeeltes te lees: Die Volk van die See, Die Aanfeald en die Éoghida deel 1 en deel 2.

Die verhaal van Ameragh
Sewe generasies na Lëalië is ’n dogter as eersgeborene van die Wíslic, die leier van die Aanfeald, gebore. Sy is Ameragh genoem, wat “Dienares van die Lig” beteken. As deel van die bloedlyn van die Wíslic is sy ook onderrig en opgelei om eendag as Wíslic van haar mense saam met haar susters. In die jaar van haar vyftiende somer het sy vir die eerste keer van die Oostelike Bewakers ontmoet op een van hulle reise om nuus van die Særíma en ander kusvolke aan die Éoghida en Aanfeald te bring. Na Ameragh die Bewakers ontmoet het, het sy besluit dat sy ook een wil wees, maar het by haar mense gebly omdat sy steeds hiér ’n rol gehad het.

In haar twintigste jaar het sy liefde gevind, soos Lëalië, by een van die Éoghida. Hy was egter ook familie van die Oueres van die volk en hulle troue is deur beide die Wíslic en die Oueres geseën. Maar voordat hulle kon trou het daar weer ’n draak vanaf die Drakespits in Nenemna na Éargestréon in die Land van Ses Riviere gekom. Die draak is weggelei van die mense af deur twaalf van die Aanfeald se beste vegters en het sy dood teëgekom op die grys heuwels buite die stad, maar met ’n swaai van sy silwergrys stert het hy Ameragh se geliefde saam met hom na sy graf geneem.

Sy het rouklere aangetrek en vir ses maande het sy gerou soos die gebruik van die Aanfeald is. Na hierdie ses maande het haar opleiding as Wíslic voortgegaan. Daar was weer vrede in die Land van Ses Riviere, maar verder suid, in die valleie van Morgeneard, was daar probleme.
'n Draak het uit Nenemna gekom
Tussen die drie provinsies van Morgeneard het burgeroorlog gedreig en die mense het besluit om hulp te kry. Een van die provinsies het na die Éargestreon gegaan om hulp van die Wíslic – wie se wysheid wyd bekend was – te gaan vra. ’n Ander provinsie het na na die Bewakers van Éamidthéo gegaan wat wes van Morgeneard was terwyl die derde die hulp van een van die Ahma gevra het.

Ameragh het saam met die Wíslic en twee van die Oueres na Morgeneard gereis en met die leiers, Ahma en Bewakers vergader.  Die situasie in Morgeneard is ontlont, maar Ameragh het weer gevind dat sy tot die lewe van ’n Bewaker aangetrokke is. Sy het weer met haar moeder gepraat en daar  is besluit dat Ameragh vir twee jaar as Bewaker sou gaan lewe. Hiérdie sou dien as deel van haar onderrig as Wíslic en na haar mondigwording het Ameragh na die Bewakers in Éamidthéo gegaan het.

Net ’n paar jaar tevore is vrede in die Middellande gevestig na die Middelland Oorloë wat oor ses dekades gestrek het. Al die inwoners van die Middellande het hard gewerk om hulle tuistes weer op te bou en vinnig het sommige van die stede weer begin floreer. Die hoofpad wat gelei het vanaf die hoofstad van Treddian in die suide, deur die vorige hoofstad van Guldargan en verder noord na die Noordelike Lande is weer opgebou om die hoof handelsroete van die Middellande te word.
Maar alles was nie pluis in die nuwe koninkryke nie. Struwelings langs die nuwe grense van die koninkryke het kort-kort plaasgevind, maar die grootste bedreiging vir die vrede in die Middellande sou die Fáll van Argavér wees.

Jy is hier
Opsoek na kaarte van Ameragh om jou pad te vind? Ek probeer om by elke inskrywing ’n kaart te plaas waar dit nodig is, maar hierdie kaarte kan ook gesien word – en groter gesien word – op hierdie een van my Pinterest plakborde.

Hier is ook twee nuwe kaarte wat ek geteken het – en hulle is sommer in Afrikaans én Engels. Die eerste is ’n kaart van ’n gedeelte van die Oostelike Lande en die tweede is van die Land van die Ses Riviere. Ta-da!

Die Oostelike Lande

Land van die Ses Riviere

Gaan koekeloer gerus op Hersenskim vandag vir nog lekker leesgoed.

Volgende Woensdag: Ameragh die legende