Kliek hier om die vorige wêreldbou gedeeltes te lees: Die Volk van die See, Die Aanfeald en die Éoghida deel 1 en deel 2.
Die verhaal van Ameragh
Sewe generasies na Lëalië is ’n dogter as eersgeborene van die Wíslic, die leier van die Aanfeald, gebore. Sy is Ameragh genoem, wat “Dienares van die Lig” beteken. As deel van die bloedlyn van die Wíslic is sy ook onderrig en opgelei om eendag as Wíslic van haar mense saam met haar susters. In die jaar van haar vyftiende somer het sy vir die eerste keer van die Oostelike Bewakers ontmoet op een van hulle reise om nuus van die Særíma en ander kusvolke aan die Éoghida en Aanfeald te bring. Na Ameragh die Bewakers ontmoet het, het sy besluit dat sy ook een wil wees, maar het by haar mense gebly omdat sy steeds hiér ’n rol gehad het.
In haar twintigste jaar het sy liefde gevind, soos Lëalië, by een van die Éoghida. Hy was egter ook familie van die Oueres van die volk en hulle troue is deur beide die Wíslic en die Oueres geseën. Maar voordat hulle kon trou het daar weer ’n draak vanaf die Drakespits in Nenemna na Éargestréon in die Land van Ses Riviere gekom. Die draak is weggelei van die mense af deur twaalf van die Aanfeald se beste vegters en het sy dood teëgekom op die grys heuwels buite die stad, maar met ’n swaai van sy silwergrys stert het hy Ameragh se geliefde saam met hom na sy graf geneem.
Sy het rouklere aangetrek en vir ses maande het sy gerou soos die gebruik van die Aanfeald is. Na hierdie ses maande het haar opleiding as Wíslic voortgegaan. Daar was weer vrede in die Land van Ses Riviere, maar verder suid, in die valleie van Morgeneard, was daar probleme.
![]() |
| 'n Draak het uit Nenemna gekom |
Ameragh het saam met die Wíslic en twee van die Oueres na Morgeneard gereis en met die leiers, Ahma en Bewakers vergader. Die situasie in Morgeneard is ontlont, maar Ameragh het weer gevind dat sy tot die lewe van ’n Bewaker aangetrokke is. Sy het weer met haar moeder gepraat en daar is besluit dat Ameragh vir twee jaar as Bewaker sou gaan lewe. Hiérdie sou dien as deel van haar onderrig as Wíslic en na haar mondigwording het Ameragh na die Bewakers in Éamidthéo gegaan het.
Net ’n paar jaar tevore is vrede in die Middellande gevestig na die Middelland Oorloë wat oor ses dekades gestrek het. Al die inwoners van die Middellande het hard gewerk om hulle tuistes weer op te bou en vinnig het sommige van die stede weer begin floreer. Die hoofpad wat gelei het vanaf die hoofstad van Treddian in die suide, deur die vorige hoofstad van Guldargan en verder noord na die Noordelike Lande is weer opgebou om die hoof handelsroete van die Middellande te word.
Maar alles was nie pluis in die nuwe koninkryke nie. Struwelings langs die nuwe grense van die koninkryke het kort-kort plaasgevind, maar die grootste bedreiging vir die vrede in die Middellande sou die Fáll van Argavér wees.
Jy is hier
Opsoek na kaarte van Ameragh om jou pad te vind? Ek probeer om by elke inskrywing ’n kaart te plaas waar dit nodig is, maar hierdie kaarte kan ook gesien word – en groter gesien word – op hierdie een van my Pinterest plakborde.
Hier is ook twee nuwe kaarte wat ek geteken het – en hulle is sommer in Afrikaans én Engels. Die eerste is ’n kaart van ’n gedeelte van die Oostelike Lande en die tweede is van die Land van die Ses Riviere. Ta-da!
![]() |
| Die Oostelike Lande |
![]() |
| Land van die Ses Riviere |
Gaan koekeloer gerus op Hersenskim vandag vir nog lekker leesgoed.
Volgende Woensdag: Ameragh die legende



No comments:
Post a Comment