Friday, August 3, 2012

Vrydag Fiksie – Ikaira se oorwinning


Ietsie vooraf
Hierdie is dié week se stukkie wat ek geskryf het na aanleiding van Woes se Woord van die Week. Dié week se woord is “wen” en moet die woord “wen” of “oorwinning” in die titel bevat. Met die dat ek Woensdag die wêreldbou stuk “The Midland Wars” op Hersenskim gaan plaas het, was dié gebeure op die voorgrond van my gedagtes.

Vir diegene wat lus is om die hele gedeelte van The Midland Wars te lees, kan hierdie pdf afgelaai word. Ek is wel ook aan die vertaal van hierdie stuk om dit in Afrikaans beskikbaar te hê so gou as moontlik. Maar eers, hier is ’n nuwe Airthai-verhaal.


Ikaira se oorwinning
Die rook van verskeie vure het steeds laag oor die vlakte gelê. Vlekke gebrande gras het suid vanaf die blou waters die Groot Rivier gelê. Reënwolke het begin saampak bo die slagveld en Ikaira het met donker oë na die grys wolke gestaar. Stukkies verbrande gras en blare is deur die wind rondgedwarrel deur die kamp.

“Die oorlog is verby.” Sy stem klink nie soos sy eie nie. Die stelling self klink soos ’n leuen. Sy hele lewe het hy geleef met die wete van die uitgerekte oorlog in die Middellande. Die oorlog wat die volgelinge van Gile net nie wou ophou veg nie. Nou staan hy hier by sy tent in sy kamp en kyk na die soldate feesvier. Na sy vader se dood net ’n dag tevore kan hy nie in die feesvieringe deel nie.

“Ikaira.”

Hy ruk van die skrik toe iemand ’n mantel om sy skouers hang. Hy het nie eens besef dat hy van die koue reënwind begin bewe het nie. Ikaira draai terug na die tent. Binne is verskeie bevelvoerders en sommige van die Bewakers van Holt Haliern en Théotriewe na die noorde. Die Oueres van die Bewakers dra donkerrooi mantels en hy besef dat dit een van die Bewakers se groen mantels is wat oor sy skouers gegooi is. ’n Hartseer glimlag trek-trek aan sy mondhoeke.

“Die oorwinning is ons s’n.” Dan glimlag hy opreg. “Guldargan het gewen. Die Fáll is oorwin.”
Een van die Oueres, Ragnar, tree stadig vorentoe en leun op sy kierie. “Wat van die ander koninkryke – Ealdfesten, Treddian... Aefterra?”

"Die oorlog is verby"
Deur sy uitdrukking en die ander se stilte besef Ikaira dat hy voor ’n toets staan. “Guldargan het baie grond verloor – en sy aansien in die Middellande. Maar ons sal vrede hê,” voeg hy dan by en trek die mantel stywer om sy skouers. “Ons sal ons land weer opbou.” Hy aarsel slegs ’n oomblik. “Met die Bewakers se hulp, hoop ek.”

Ragnar knik sy kop. Ikaira het die toets geslaag. “Die besprekings kan môre begin. Vanaand het ons almal rus nodig. Maar eers moet Guldargan se nuwe koning gekroon word.”

Een van die kapteins bring ’n versierde houtkissie na vore en Ragnar maak dit oop. Binne, op ’n gebondelde stuk materiaal lê die kroon van Guldargan – ’n kroon wat slegs ’n dag tevore steeds op die koning se kop gepryk het tydens die geveg.  Ikaira se hart klop vinniger en hy voel sy palms klam raak. Dan kniel hy voor Ragnar en die Ouere lê die kroon op sy hoof. Wanneer hy opstaan, kniel die Bewakers en kapteins van Guldargan voor hom. Asof hy in ’n waas beweeg, word ’n nuwe mantel om sy skouers gehang en word hy na buite die tent gelei en aan die soldate voorgestel as die nuwe koning. Al begin die reën saggies val, begin die feesvieringe nou opreg.

Terug in die tent skryf Ikaira kort notas, seël dit, en laat roep die boodskappers. Nuus van die nuutgekroonde koning moet so gou as moontlik versprei word. Dan roep hy Ragnar.

“Die Fáll wat nou op die Argavér Vlakte is, is afgesny van toegang tot voedsel.”

“Wat stel u voor, majesteit?” Ragnar se stem is laag, versigtig.


’n Ruk later staan Ikaira op die oewer van die Groot Rivier saam met ’n paar Bewakers, sy kapteins en ’n paar soldate. By hulle is ’n paar bondels kos wat in geoliede lap toegedraai is. Hulle laai die bondels op ’n vlot gemaak uit ’n paar stompe wat rofweg aanmekaar gebind is en laat dit dan by die rivier afdryf in die rigting van die Fáll.

“Die Fáll se vrouens en kinders is ook in hulle kampe,” sê Ikaira. “Ek sal nie met myself kan saamleef as ek weet dat ek hulle laat honger ly nie.”

Ragnar hou Ikaira fyn dop. Die jongerige man se oë is donker. In die laaste paar dae het hy baie beleef. Miskien te veel. Maar sy optrede na die bloedige geveg spreek boekdele.

“U sal ’n goeie koning maak,” sê hy en knik gerusstellend. “Kom rus. Môre is ’n groot dag.”



**

No comments:

Post a Comment