Showing posts with label flitsfiksie. Show all posts
Showing posts with label flitsfiksie. Show all posts

Monday, October 29, 2012

Maandag Fiksie – The Call from Below

Foto deur Julia Starr

“The Call from Below” is flitsfiksie wat ek geskryf het vir die Readers’ Realm Oktober-kompetisie. Die tema/inspirasie wat gegee is, is dat dit ’n bangmaakstorie sonder bloed en derms moet wees. So, toe gebruik ek ’n bietjie plaaslike mitologie en skryf stedelike fantasie (“Urban Fantasy”).

Lees “The Call from Below” hier by Readers’ Realm en, terwyl jy daar is, koekeloer sommer ook na van die ander stories.

Wednesday, June 6, 2012

Idees by dosyne


Ek sien gister op ’n e-pos vanaf www.woes.co.za dat daar elke week ’n “woord van die week” gegee gaan word waaroor inskrywings gemaak kan word:


Elke week, Dinsdag, sal daar ‘n nuwe woord of woorde bekend gestel word waaroor jy dan enige tipe bydrae kan lewer. Die woord/e gaan of met ‘n spesiale geleentheid te doen hê of met nuusgebeure ens. So kan ons bydraes lewer wat aansluit met wat tans in die regte wêreld gebeur.


Ek nooi almal uit om deel te wees van hierdie projek en ‘n bydrae te lewer tot dit. As die belangstelling groei, sal daar meer gereeld as net een maal per week projekte geloods word. Die reël wat gevolg moet word is dat die woord/e wat vir ‘n projek aangewys word in die titel asook die res van die bydrae moet verskyn.


Dus, vir die aansienlike toekoms, dink ek gaan ek probeer om weekliks ’n stukkie flitsfiksie te skryf – net vir die oefening. Hierdie stukkie sal dan op Vrydae geplaas word vir Vrydag Fiksie. Mens weet ook nooit – van hierdie idees sal seker opregte stories word wat ek weer sal verwerk vir moontlike publikasie.

Meer oor die “woord van die week” kan hier gelees word en, as jy self ’n skrywer is, sluit sommer ook by Woes se kreatiewe werkruimte aan!

Intussen lê ’n paar stories en wag vir  om klaar geskryf te word, geproeflees te word, of, in een geval, oorgeskryf te word. Maar vir eers moet hierdie paar wag totdat ek genoeg van hulle vergeet het om met nuwe oë daarna te kyk. ’n Ander storie (’n kortverhaal wat in die wêreld van Airthai afspeel) is ’n stukkie reeds van geskryf, maar ek gaan die res eers puntsgewys moet uitskryf sodat ek spesifiek weet waarheen ek op pad is – anders gooi ek netnou ’n groot deel geskiedenis by die venster uit!

En, natuurlik, neem studies die meeste van my tyd buite werk op – maar die vordering is darem daar!

Tot later, groetnis!

Wednesday, May 23, 2012

Woensdag Wetenskapsfiksie – Die rooi lint


“Nee meneer, die rooi weerkaatsing-lint is nie op die pale geplak om soldate te help om hul pad hierheen te vind nie.”
Jaco loer deur die spasie tussen die deur en kosyn, al beteken dit dat sy sig deur die kettinkie, wat aan die alarm vas is, belemmer word. Hy wou nie oopmaak nie, maar die man se ID-boekie wou nie onder die deur deurskuif nou dat hy ‘n ekstra rubberstrook daar vasgeplak het nie. Ja, die plek is ‘n brandgevaar met diefwering voor elke venster en verskeie slotte op elke deur – en natuurlik twee sekuriteitshekke voordat jy by die voordeur kon kom – maar ten minste het Jaco ‘n bietjie veiliger gevoel hierbinne.

Noudat hy sy kruideniersware oor die internet kan bestel en dit by sy voordeur afgelewer word, het hy gedink sy lewe is perfek. Hy het vyf keer in een jaar getrek – en elke keer het hy seker gemaak dat hy na plekke trek waar meer mense woon. Die enigste plek waar hy nog kon gaan, was Johannesburg se middestad. Hy het geglo hy is veilig hier. Hy moes dit glo. Toe, een oggend, sien hy hoe word die rooi lint om die straatnaampale geplak. Van sy sitkamervenster kon hy beide straatname sien. Judges wat noord wys. Republiek wat oos wys. En die drie strepe rooi lint wat hom uittart – en waarsku. Hy moet met iemand praat wat kan help. Of hy moet weer trek voordat hulle hom opspoor. Eerder die Red Ants as húlle.
Dit stop reg voor sy gebou. Reg voor sy woonstel.



Hy steek ‘n sigaret aan om sy senuwees te kalmeer. “Thabo het vir my gesê die lint is op elke hoek van hier tot by William Nicol.”
Die munisipale werker glimlag bekommerd vir Jaco. Dan kyk hy weg en sê iets vir Thabo wat Jaco nie verstaan nie. Die sekuriteitswag van die woonstelblok tree nader aan die deur sodat hy Jaco beter kan sien.
“Ek verseker jou, Jaco, dat die lint dit net makliker maak vir die motoriste om te sien waar hulle gaan in die aand. Jy weet, vir load shedding en so.”
Hy gee Jaco ‘n wye glimlag. “Jy weet hoe dit is met die munisipaliteite – hulle staak seker weer, so hulle het nog net nie die lint orals opgesit nie.”
Jaco steek nog ‘n sigaret aan.
“In elk geval, Jaco,” sê Thabo, “wie dink jy gaan ons inval? Namibië? Lesotho? Swaziland? Illegal Aliens?”
Hy onthou dat die plaaslike supermark die vorige dag kruideniersware afgelewer het, maar hy kan nie onthou wanneer laas hy vir dr. Naidoo by Jaco gesien het nie. Of wanneer laas die apteek sy medisyne kom aflewer het nie.
Jaco skud sy kop en vra hulle om sagter te praat.
“Julle sien,” sê hy en neem nog ‘n trek van sy sigaret, “dit sal nie van ons bure kom nie. Of oorsee nie. Dit is die Ander wat sal kom. Maar ek skat hulle is seker ook illegal,” voeg hy met ‘n skewe glimlag by. Hy wys na die lug. “Hulle kom in die aand. Ek het al die ligte gesien. Hulle vat mense om op eksperimente te doen. Hulle het my al geneem.”
Hy vat nog ‘n trek van sy sigaret en blaas ‘n bol rook uit. “En waar is ‘n beter plek om te begin oorneem? Ons het nie ‘n groot genoeg weermag om hulle te stop nie. En wat gaan die buurtwag doen? Of armed response? Julle moet vir die burgemeester sê, julle moet hom sê ons moet die lint afhaal. Of vir die raad sê. Vir iemand sê. Die diefwering kan die boewe uithou. Ek kan diewe met pepersproei spuit, maar nie vir hulle nie. Ons weet nie hoe om hulle te stop nie.”
Hy druk die sigaretstompie in die asbakkie op die tafeltjie by die deur dood en steek dadelik nog ‘n sigaret aan. “Sal julle hom sê?” smeek hy. “Sal julle hom sê om die lint af te haal voor dit hulle na my lei?”
Thabo glimlag vir Jaco en praat met die munisipale werker. Jaco kan hulle nie verstaan nie, maar dit lyk belowend, aangesien hulle ten minste nie lag soos die ander mense wat hy al gewaarsku het nie.
“Ons sal dit hanteer, Meneer.”
Jaco bedank die twee mans en sluit die deur. Hy skuif ‘n kas voor die tweede veiligheidshek net om seker te maak dat niemand kan inkom nie. Dan trek hy die sitkamer se gordyne toe, maar los ‘n skrefie sodat hy die straat van die rusbank af kan dophou.

Dit is reeds laat in die aand en Jaco is besig om televisie te kyk toe die ligte uitgaan en die TV-skerm ontplof. Die klank van die vuvuzelas verder af in die gang word deur luide vloeke vervang. Die paar motors in die straat se enjins stol en die motoriste se kwaai stemme dryf deur die venster. Toe is alles skielik stil. Hy probeer om hulp skree, maar geen geluid kom uit sy mond nie. Hy kan nie beweeg nie en sy hart begin vinniger en vinniger pomp. Buite blink die rooi lint terwyl die lig in sy woonstel al skerper word.
Hy sien vyf maer, grys figure voor hom staan.
Hulle het hom weer gekry.
Om hom word die lig dan verblindend wit terwyl hy in die lug opstyg.



Hierdie flitsverhaal het eerste hier verskyn.

Foto met vergunning van  www.sxc.hu