Showing posts with label gorrel. Show all posts
Showing posts with label gorrel. Show all posts

Friday, November 2, 2012

Inspirasionele Vrydag – Stories en Fantasie-musiek


Eers gaan ek so bietjie my eie beuel blaas - “The Call from Below”
Ek het Woensdagaand gehoor dat my storie “The Call from Below” die Oktober flits fiksie kompetisie op Readers’ Realm gewen het! 
Ja, ek het bietjie in die sitkamer gesokkie toe ek die nuus kry! Ek was vir 'n ruk seker daarvan dat alles wat ek skryf absoluut aaklig is, so hierdie het regtig gehelp om my gedagtes weer op die regte baan te kry. Dat ek nou ‘n boek kan bekostig waarna ek al vir maande lank staar help ook!

'n Bietjie skryfnuus 
Ek is besig met die laaste weergawe van nog ‘n flits fiksie storie – wat nie dieselfde titel vir meer as een weergawe het nie, so ek sal dit nie eens noem nie – wat ek die naweek wil klaarmaak en hopelik gepubliseer kry. Op die oomblik is my gedagtes lyk my meer by “grillerig en verdraai” as by “epies en fantasie", so ek het die novelle The Dragon Seeker vir eers bietjie eenkant gesit tot Desember; wanneer ek ook meer tyd sal hê vir epiese storielyne. Hierdie maand wil ek die –flits-fiksie-sonder-'n-naam en 'n ander kortverhaal, wat op die oomblik die titel “The Road Chosen” het. Dié hoop ek om in die nuwe jaar in Cross and Cosmos-tydskrif geplaas te kry. Die Cross and Cosmos kan ook (gratis en pasella!) hier gelees word. Lees sommer my storie “A Dragon’s Freedom” in Uitgawe 5 terwyl jy daar rondsnuffel – dit is 'n kortverhaal wat in my wêreld van Airthai afspeel.

En 'n bietjie inspirasie so voor die naweek afskop! 
Hier is 'n paar van my gunsteling fantasie musiekvideo’s om die naweek aan die gang te kry. Van volgende week Vrydag af gaan ek 'n weeklikse bloginskrywing oor The Hobbit hê in die aanloop tot die film se vrystelling in Desember.

Geniet die naweek!







Wednesday, July 25, 2012

Om die sprong te waag


Ek het ‘n redelike tyd gewik en geweeg of ek by ’n aanlyn skrywersgroep moet aansluit of nie. Ek besluit toe om by The Anomalous Sandbox aan te sluit en my inskrywing is aanvaar. Hierdie is ’n geslote groep wat op Christelike spekulatiewe fiksie fokus en, aangesien ek reeds deel is van The Anomaly-forum, voel dit soos die regte plek om te wees.
Die energie en motivering is die groep is werklik wonderlik en ’n goeie manier om die kreatiwiteit aan die gang te kry.


Nadat ek vir ’n week af siek was, is ek bietjie agter met my skryf- en studiewerk, maar ek hoop om hierdie week weer op datum te kom nou dat ek beter voel. Ek hoop om teen Vrydag ’n stukkie flits fiksie reg te hê om hier te plaas vir die naweek.
Tot volgende keer sal ek dus aan die tik, skryf en lees wees om terug op die jaar se wegholperd te kom!

Hierdie foto’s kan gevind word op die webwerf Stock Exchange.

Wednesday, June 6, 2012

Idees by dosyne


Ek sien gister op ’n e-pos vanaf www.woes.co.za dat daar elke week ’n “woord van die week” gegee gaan word waaroor inskrywings gemaak kan word:


Elke week, Dinsdag, sal daar ‘n nuwe woord of woorde bekend gestel word waaroor jy dan enige tipe bydrae kan lewer. Die woord/e gaan of met ‘n spesiale geleentheid te doen hê of met nuusgebeure ens. So kan ons bydraes lewer wat aansluit met wat tans in die regte wêreld gebeur.


Ek nooi almal uit om deel te wees van hierdie projek en ‘n bydrae te lewer tot dit. As die belangstelling groei, sal daar meer gereeld as net een maal per week projekte geloods word. Die reël wat gevolg moet word is dat die woord/e wat vir ‘n projek aangewys word in die titel asook die res van die bydrae moet verskyn.


Dus, vir die aansienlike toekoms, dink ek gaan ek probeer om weekliks ’n stukkie flitsfiksie te skryf – net vir die oefening. Hierdie stukkie sal dan op Vrydae geplaas word vir Vrydag Fiksie. Mens weet ook nooit – van hierdie idees sal seker opregte stories word wat ek weer sal verwerk vir moontlike publikasie.

Meer oor die “woord van die week” kan hier gelees word en, as jy self ’n skrywer is, sluit sommer ook by Woes se kreatiewe werkruimte aan!

Intussen lê ’n paar stories en wag vir  om klaar geskryf te word, geproeflees te word, of, in een geval, oorgeskryf te word. Maar vir eers moet hierdie paar wag totdat ek genoeg van hulle vergeet het om met nuwe oë daarna te kyk. ’n Ander storie (’n kortverhaal wat in die wêreld van Airthai afspeel) is ’n stukkie reeds van geskryf, maar ek gaan die res eers puntsgewys moet uitskryf sodat ek spesifiek weet waarheen ek op pad is – anders gooi ek netnou ’n groot deel geskiedenis by die venster uit!

En, natuurlik, neem studies die meeste van my tyd buite werk op – maar die vordering is darem daar!

Tot later, groetnis!