Wednesday, June 6, 2012

Idees by dosyne


Ek sien gister op ’n e-pos vanaf www.woes.co.za dat daar elke week ’n “woord van die week” gegee gaan word waaroor inskrywings gemaak kan word:


Elke week, Dinsdag, sal daar ‘n nuwe woord of woorde bekend gestel word waaroor jy dan enige tipe bydrae kan lewer. Die woord/e gaan of met ‘n spesiale geleentheid te doen hê of met nuusgebeure ens. So kan ons bydraes lewer wat aansluit met wat tans in die regte wêreld gebeur.


Ek nooi almal uit om deel te wees van hierdie projek en ‘n bydrae te lewer tot dit. As die belangstelling groei, sal daar meer gereeld as net een maal per week projekte geloods word. Die reël wat gevolg moet word is dat die woord/e wat vir ‘n projek aangewys word in die titel asook die res van die bydrae moet verskyn.


Dus, vir die aansienlike toekoms, dink ek gaan ek probeer om weekliks ’n stukkie flitsfiksie te skryf – net vir die oefening. Hierdie stukkie sal dan op Vrydae geplaas word vir Vrydag Fiksie. Mens weet ook nooit – van hierdie idees sal seker opregte stories word wat ek weer sal verwerk vir moontlike publikasie.

Meer oor die “woord van die week” kan hier gelees word en, as jy self ’n skrywer is, sluit sommer ook by Woes se kreatiewe werkruimte aan!

Intussen lê ’n paar stories en wag vir  om klaar geskryf te word, geproeflees te word, of, in een geval, oorgeskryf te word. Maar vir eers moet hierdie paar wag totdat ek genoeg van hulle vergeet het om met nuwe oë daarna te kyk. ’n Ander storie (’n kortverhaal wat in die wêreld van Airthai afspeel) is ’n stukkie reeds van geskryf, maar ek gaan die res eers puntsgewys moet uitskryf sodat ek spesifiek weet waarheen ek op pad is – anders gooi ek netnou ’n groot deel geskiedenis by die venster uit!

En, natuurlik, neem studies die meeste van my tyd buite werk op – maar die vordering is darem daar!

Tot later, groetnis!

No comments:

Post a Comment