Pragtige musiek en ’n gedig daardeur geïnspireer, wat ek so ’n paar weke gelede geskryf het. Die Engelse weergawe is vandag op Hersenskim te vinde.
Smekend om Lig
(Gedig na Antiphona post Evangelium)
O, my God, hoe weet U wanneer om te antwoord?
uit die diepe donker smeek my siel om Lig
maar ek kry geen antwoord.
mag ek – vleesomhulde siel – dit vra?
hoop vervaag.
alles word tot nag om my –
vriende, vriendskap en liefde
verdof tot slegs ’n skadu.
en dan, skielik, klink daar ’n lied.
Uit die donker ruis stemme met
die klank van die Engele.
Hul sing tot U eer.
Hul sing uit die verlede.
in hul eie donker tyd antwoord hulle:
Haleluja! Haleluja! Haleluja!
die stemme bring U Lig na my en
ek – vleesomhulde siel – kan sien en sing
en uitreik na ’n stukkie van U seën.
Geskryf na die lied “Antiphona post Evangelium”, ’n Ambrosiaanse cantus deur ’n anonieme skrywer. Gesing deur In Dulci Jubilo op die CD Discover Early Music deur Naxos.
Foto by http://www.sxc.hu, deur John Nyberg

No comments:
Post a Comment