Pragtige musiek en ’n gedig daardeur geïnspireer, wat ek so ’n paar weke gelede geskryf het. Die Engelse weergawe is vandag op Hersenskim te vinde.
Smekend om Lig (Gedig na Antiphona post Evangelium) O, my God, hoe weet U wanneer om te antwoord? uit die diepe donker smeek my siel om Lig maar ek kry geen antwoord. mag ek – vleesomhulde siel – dit vra? hoop vervaag. alles word tot nag om my – vriende, vriendskap en liefde verdof tot slegs ’n skadu. en dan, skielik, klink daar ’n lied. Uit die donker ruis stemme met die klank van die Engele. Hul sing tot U eer. Hul sing uit die verlede. in hul eie donker tyd antwoord hulle: Haleluja! Haleluja! Haleluja! die stemme bring U Lig na my en ek – vleesomhulde siel – kan sien en sing en uitreik na ’n stukkie van U seën.
Christopher Page beskryf die Abdis Hildegard von Bingen as “een van die mees merkwaardige kreatiewe persoonlikhede van die Middeleeue” (2012:2). Sy is in 1098 gebore en in die sorg van die abdis Jutta van Spanheim – abdis van ’n klooster geheg aan die monnikeklooster van Disibodenberg – geplaas toe sy agt jaar oud was. “In 1141, het sy Jutta as abdis opgevolg en het tonge vuur vanuit die hemel sien neerdaal en op haar gaan vaskleef. Daarna het sy haarself gewy aan ’n lewe van intense en driftige kreatiwiteit. Onder haar litereêre werke is twee boeke oor natuurkennis en medisyne (Physica and Cause et cure) en ’n moraliteitspel, genaamd die Ordo Virtutum, wat alle ander werke in daardie genre met ongeveer ’n eeu vooruitloop. Haar boek van voorspieëlinge, Scivias, het haar vir tien jaar tussen 1141 en 1151 besig gehou.” (2010:2) Hildegard het op 17 September 1179 gesterf en alhoewel haar kanonisering verskeie maal voorgestel is, is sy nooit gekanoniseer nie.
Die lied “O ignis spiritus” word beskryf as “Hildegard se apostroof tot haar Muse, die Pinkstervuur wat op haar neergedaal het en kennis van die belangrike Bybelse boeke meegedeel het.” (2010:3).
Na die video van die lied gee ek eerste die Latynse teks, waarna die Afrikaanse vertaling volg.**
O ignis spiritus O ignis spirits paracliti, vita vite omnis creature, sanctus es vivificando formas.
Sanctus es ungendo periculose fractos; sanctus es tergendo fetida vulnera.
O spiraculum sanctitatis, o ignis caritatis, o dulcis gustus in pectoribus et infusion cordium in bono odore virtutum.
O fons purissimus, in quo consideratur quod Deus alienos colligit et perditos requirit.
O lorics vite et spes compaginis membrorum omnium, et o cingulum honestatis, salva beatos.
Custodi eos qui carcerati sun tab inimico, et solve ligatos quos divina vis salvare vult.
O iter fortissimum quod penetravit omnia; in altissimis et in terrenis et in omnibus abyssis tu omnes componis et colligis.
De te nubes fluunt, ether volat, lapides humorem habent, aque rivulos educunt, et terra viriditatem sudat.
Tu etiam simper educis doctos per inspirationem sapientie letificatos.
Unde laus tibi sit, qui es sonus laudis, et gaudium vite, spes et honor fortissimus dans premia lucis.
O vuur van die Gees**
O vuur van die verkwikkende Gees, lewe van die lewe van die hele Skepping, U is heilig in die verkwikking van Alles.
U is heilig in die salwing van dié wat swaar beproef word; U is heilig in die reiniging van die smetterige wond.
O asem van heiligheid, O vuur van liefde O soete stroom in die bors en vloeding van die hart in die goeie aroma van die deugde.
O reinste fontein, in wie daar gesien word dat God die heidene oproep en die verlorenes soek.
O maliekolder van lewe en hoop om al die lede van Ekklesia saam te bind, O sabelkoppel van eerlikheid, red die geseëndes.
Bewaak almal wat deur die Vyand gevange geneem is, en laat dié gebondenes is vry wat Goddelike Krag wil red.
O onwrikbaarste pad wat alles binnedring; in die hoogste van alle plekke, op die vlaktes, en in elke bodemlose diepte roep U almal saam en verenig almal.
Deur U stroom die wolke, die boonste lug swewe, die rotse het hul hardheid, die waters lei voort uit hul splete en die aarde gee varsheid af.
U lei altyd dié wat begryp en vreugdevol gemaak word deur die inspirasie van wysheid.
Waarvandaan U lof kom U, wat die klank van lof En die saligheid van lewe is, hoop en rykste geskenk wat die beloning van lig gee.