Showing posts with label lees. Show all posts
Showing posts with label lees. Show all posts

Friday, March 1, 2013

Om weer verlief te raak op (jou) taal


Wonderlike plakkaat deur Burning Through Pages

Nou die dag het die webwerf Medieval and Earlier Manuscripts laat weet dat die Beowulf-manuskrip nou aanlyn beskikbaar is. Dadelik twiet ek die skakel en gaan kyk weer na die eerste bladsy van dié eeue-oue manuskrip. Omtrent twee jaar voor ek die eerste keer ’n foto daarvan gesien het, het ek Seamus Heaney se vertaling van dié epiese gedig gelees en is totaal meegevoer deur Beowulf, Grendel en die draak. Dít was in graad 11. Ek sal nooit vergeet toe ek in ’n af biologieklas die boek uithaal en vir seker die vierde keer daardie maand begin lees nie. Die meisie wat langs my gesit het vra toe waaroor dit gaan – die arme ding het nie besef sy gaan die hele storie en ’n goeie dosis oor Oudengels hoor nie. (En vir die hoeveelste keer moes ek hoor dat ‘meisies nie súlke boeke moet lees nie’.)

So drie jaar terug spoor ek by ’n biblioteekboekverkoping deel 10 van die Afrikaanse Kinderensiklopedie op en kan nie my geluk glo nie*. Hierdie spesifieke deel bevat Afrikaanse vertellings van, onder andere, die Noorse mitologie en ook van die held Beowulf. Tog bly dit vreemd hoe iets in mens se eie taal die hart kan roer. Neem nou byvoorbeeld Koos du Plessis se pragtige, hartroerende lirieke. Of P.G. duPlessis se “Sommer Stories” wat in ’n paar honderd woorde mens kan laat skater van die lag, laat huil of mens vir dae aan een iets kan laat oordink. (Wys hulle mos nou weer Koöperasiestories op SABC 2. Laas Vrydag wys “’n Ruikertjie geelperskes” en daar huil ek omtrent my oë uit. Die man is ’n meester!) Ek dink nie daardie stories sal dieselfde geur hê in Engels nie.



'n Versameling van P.G. du Plessis se verhale
Hierdie week se Woord en Klank op RSG het Elisabeth Eybers se werk bespreek en haar gedigte het my sommer weer van voor af laat verlief raak op Afrikaans. Maar, moet my nie verkeerd verstaan nie, dis nou nie verlief in ’n soort een-taal-een-volk manier nie. Nee, verlief in ’n hierdie-taal-spreek-tot-my-hart manier. En tot ’n weer besef en verwondering dat die mensdom die diepste emosies en pragbeelde in mekaar se gedagtes kan skep deur net ’n klomp klanke in ’n spesifieke volgorde te maak.


*Dit is byna meer gevaarlik om my by so ’n uitverkoping toe te laat as by Exclusive Books se uitverkoping wanneer jy ’n kilogram boeke vir R50 kan koop! 

Friday, May 18, 2012

Spoke, boontjieranke en wolhaarstories


Skryfpraatjies 
Wat ’n week! Met die winter wat vinnig nader kom word dit definitief moeiliker om in die aand te werk. Maar dié wat my onlangse twiets gesien het, sou sien dat ek deesdae meer werk (en studiewerk) in die oggend gedoen kry. Dit is nou nie omdat ek vroeër opstaan nie, maar omdat ek later begin werk. Dít gee my ten minste ’n halfuur in die oggend om te skryf voorday ek moet werk toe gaan. In dié tyd het ek dit reggekry om die volgende weergawe van ’n “WIP” klaargemaak waarvoor ek Jan en die boontjierank as inspirasie gebruik. Ek het dit vir ’n paar vriende gegee om te lees en oor kommentaar te gee voordat ek dit weer deurwerk en hopelik gepubliseer kry. Ek het ook ’n ander stuk klaargemaak en gestuur vir moontlike Suid-Afrikaanse publikasie. Nou hou ek net duime vas.

Ek is ook besig met ’n paar ander, korter stukke waaraan ek gaan werk terwyl die “boontjierank” storie vir ’n week of twee in ’n laai lê.

Zombies! Spoke! En ander studiegoeters 
My ander fokus hierdie jaar is natuurlik my studies. Ek gaan die naweek weer op ’n Groot Biblioteekekskursie met ’n lang lys van goed om te doen (en ’n lang speellys van studiemusiek).

Ek het ook lekker gelag hierdie week terwyl ek aan my essay werk. Die droë humor van die skrywer van die Eyrbyggja Saga laat my altyd krul van die lag. Een deel wat my veral laat lag het is in hoofstuk 54, getiteld “More Ghosts”. Nadat ’n groep mans wat gaan visvang het verdrink, keer hulle terug na die plaas elke aand om by die vuur te sit:
Thorodd and his men walked across the main room, which had two doors, and into the living room. They ignored the greetings people gave them and sat down at the fire. The people ran out of the living-room, but Thorodd and his men stayed on until the fire began to burn very low, then went away. As long as the funeral feast lasted this continued: every evening the drowned men would come to the fire. It gave people at the feast plenty to talk about, but some of them thought it would stop once the feast was over. 

Aanhaling geneem uit Eyrbyggja Saga, vertaal deur Hermann Pálsson en Paul Edwards, gepubliseer deur Penguin Classics.

Norsemen Landing in Iceland, deur H. A. Guerber


Friday, May 11, 2012

(Nie-)fiksie Vrydag: The Dragon’s Trail deur Joanna Pitman


Boekresensie: The Dragon’s Trail: The Biography of Raphael’s Masterpiece deur Joanna Pitman. ’n Touchstone Book, gepubliseer deur Simon & Schuster. ISBN-13: 978-0-7432-6513-3.
Vind dit hier op Goodreads.

In The Dragon’s Trail, vertel Pitman die verhaal van ’n enigmatiese klassieke meesterstuk deur een van die Renaissance se bekendste kunstenaars. Ek dink nie enigiemand kan voor een van Raphael se kunswerke staan – of selfs net daarna kyk nie – sonder om deur die skoonheid en talent van die kunstenaar se kwas aangeraak te word nie. Sy skildery, St. George en die draak – wat in 1506 as opdragwerk aangevra is – is geverf toe Raphael slegs drie-en-twintig was. Maar Pitman vertel nie net die verhaal van hoe die skildery geverf is nie, maar volg die lang lewe van hierdie wonderlike skildery deur die daaropvolgende eeue tot die hede.



Hierdie verhaal is nie slegs die verhaal van ’n skildery nie, maar ook die verhaal van die mense wat dit besit en hulle plek in die geskiedenis en sluit in konings, rewolusies, rykdom en armoede en strek van Italië, Engeland en Rusland na Amerika. Pitman skryf in pragtige, dramatiese prosa wat meer soos ’n roman as ’n boek oor kunsgeskiedenis of geskiedenis lees. The Dragon’s Trail is ’n boek vir die leke persoon of die kunsliefhebber, maar ongeag hiervan, is die passie waarmee die boek geskryf is die aansteeklik. Pitman se liefde van kuns en veral hierdie kunswerk word wonderlik in hierdie boek uitgebeeld.

Ek kan hierdie boek aanbeveel vir liefhebbers van geskiedenis, kuns en die Renaissance. Maar, alhoewel die boek se stofomslag wel ’n pragtige kleurafbeelding van die skildery bevat, sou ek dit verkies het as die afbeelding van die skildery binne die boek ook in kleur was en nie slegs in grys nie. Dalk in ’n volgende uitgawe?

Vir algemene leesgenot en -baarheid, gee ek die boek vier en ’n half uit vyf sterre. Definitief ’n boek wat ek weer sal lees.


Foto deur wikipedia