Showing posts with label tale. Show all posts
Showing posts with label tale. Show all posts

Friday, March 1, 2013

Om weer verlief te raak op (jou) taal


Wonderlike plakkaat deur Burning Through Pages

Nou die dag het die webwerf Medieval and Earlier Manuscripts laat weet dat die Beowulf-manuskrip nou aanlyn beskikbaar is. Dadelik twiet ek die skakel en gaan kyk weer na die eerste bladsy van dié eeue-oue manuskrip. Omtrent twee jaar voor ek die eerste keer ’n foto daarvan gesien het, het ek Seamus Heaney se vertaling van dié epiese gedig gelees en is totaal meegevoer deur Beowulf, Grendel en die draak. Dít was in graad 11. Ek sal nooit vergeet toe ek in ’n af biologieklas die boek uithaal en vir seker die vierde keer daardie maand begin lees nie. Die meisie wat langs my gesit het vra toe waaroor dit gaan – die arme ding het nie besef sy gaan die hele storie en ’n goeie dosis oor Oudengels hoor nie. (En vir die hoeveelste keer moes ek hoor dat ‘meisies nie súlke boeke moet lees nie’.)

So drie jaar terug spoor ek by ’n biblioteekboekverkoping deel 10 van die Afrikaanse Kinderensiklopedie op en kan nie my geluk glo nie*. Hierdie spesifieke deel bevat Afrikaanse vertellings van, onder andere, die Noorse mitologie en ook van die held Beowulf. Tog bly dit vreemd hoe iets in mens se eie taal die hart kan roer. Neem nou byvoorbeeld Koos du Plessis se pragtige, hartroerende lirieke. Of P.G. duPlessis se “Sommer Stories” wat in ’n paar honderd woorde mens kan laat skater van die lag, laat huil of mens vir dae aan een iets kan laat oordink. (Wys hulle mos nou weer Koöperasiestories op SABC 2. Laas Vrydag wys “’n Ruikertjie geelperskes” en daar huil ek omtrent my oë uit. Die man is ’n meester!) Ek dink nie daardie stories sal dieselfde geur hê in Engels nie.



'n Versameling van P.G. du Plessis se verhale
Hierdie week se Woord en Klank op RSG het Elisabeth Eybers se werk bespreek en haar gedigte het my sommer weer van voor af laat verlief raak op Afrikaans. Maar, moet my nie verkeerd verstaan nie, dis nou nie verlief in ’n soort een-taal-een-volk manier nie. Nee, verlief in ’n hierdie-taal-spreek-tot-my-hart manier. En tot ’n weer besef en verwondering dat die mensdom die diepste emosies en pragbeelde in mekaar se gedagtes kan skep deur net ’n klomp klanke in ’n spesifieke volgorde te maak.


*Dit is byna meer gevaarlik om my by so ’n uitverkoping toe te laat as by Exclusive Books se uitverkoping wanneer jy ’n kilogram boeke vir R50 kan koop! 

Thursday, June 28, 2012

Bronne vir inspirasie


Die Internet het ’n paar wonderlike databasisse as jy opsoek is na inspirasie vir spekulatiewe stories. Hierdie week begin ek met ’n paar wat ek nogal redelik gebruik – beide vir my studies en vir ontspannende lees. Hierdie bronne is gratis om te gebruik al is dit meer akademiesgeörienteerd as baie. Hierdie week se bronne het te make met Germaanse mites en legendes sowel as sprokies en folklore. Geniet dit!



Lees uit die verlede
Folklore and Mythology Electronic Texts
Hierdie databasis is geskep deur Professor D.L. Ashliman (nou afgetree) van die Universiteit van Pittsburgh en bevat skakels na folklore, sprokies, Germaanse mites, so wel as stories van verskeie verskillende kulture. Meeste van hierdie tekste is in Engels. Die navigasie is ook redelik verbruikersvriendelik.

Eddas, Sagas en Wikings!
 Heimskringla.no 
Heimskringla (die naam is afkomstig van die werk deur Snorri Sturluson) is ’n wonderlike argief van Oudnoorse sagas, Eddas en sekondêre werke oor hierdie onderwerp. Tekste en vertalings is is ’n verskeidenheid Germaanse tale beskikbaar. Die argief is ook in ’n wiki-formaat, wat dit maklik maak om te navigeer en tekste af te laai.

Boeke, ou boeke en aanlyn boeke 
Septrionalia
Hierdie is ’n wonderlike argief as jy op soek is na ou tekste in verskeie tale. Byna enigiets is hier te vinde, van Oudiers, tot Latyn. Die webwerf bevat ook verskeie woordeboeke tesame met mitologiese tekste en ander verhale. Die voorkoms is nou nie juis iets om oor huis toe te skryf nie, maar die inhoud maak beslis daarvoor op.



Tot volgende keer,  Á Agrai tellarias or s'agrélar silássa ¬– Mag die Lig van die Een op jou pad skyn.

Foto's deur Stock Exchange.