Friday, March 1, 2013

Om weer verlief te raak op (jou) taal


Wonderlike plakkaat deur Burning Through Pages

Nou die dag het die webwerf Medieval and Earlier Manuscripts laat weet dat die Beowulf-manuskrip nou aanlyn beskikbaar is. Dadelik twiet ek die skakel en gaan kyk weer na die eerste bladsy van dié eeue-oue manuskrip. Omtrent twee jaar voor ek die eerste keer ’n foto daarvan gesien het, het ek Seamus Heaney se vertaling van dié epiese gedig gelees en is totaal meegevoer deur Beowulf, Grendel en die draak. Dít was in graad 11. Ek sal nooit vergeet toe ek in ’n af biologieklas die boek uithaal en vir seker die vierde keer daardie maand begin lees nie. Die meisie wat langs my gesit het vra toe waaroor dit gaan – die arme ding het nie besef sy gaan die hele storie en ’n goeie dosis oor Oudengels hoor nie. (En vir die hoeveelste keer moes ek hoor dat ‘meisies nie súlke boeke moet lees nie’.)

So drie jaar terug spoor ek by ’n biblioteekboekverkoping deel 10 van die Afrikaanse Kinderensiklopedie op en kan nie my geluk glo nie*. Hierdie spesifieke deel bevat Afrikaanse vertellings van, onder andere, die Noorse mitologie en ook van die held Beowulf. Tog bly dit vreemd hoe iets in mens se eie taal die hart kan roer. Neem nou byvoorbeeld Koos du Plessis se pragtige, hartroerende lirieke. Of P.G. duPlessis se “Sommer Stories” wat in ’n paar honderd woorde mens kan laat skater van die lag, laat huil of mens vir dae aan een iets kan laat oordink. (Wys hulle mos nou weer Koöperasiestories op SABC 2. Laas Vrydag wys “’n Ruikertjie geelperskes” en daar huil ek omtrent my oë uit. Die man is ’n meester!) Ek dink nie daardie stories sal dieselfde geur hê in Engels nie.



'n Versameling van P.G. du Plessis se verhale
Hierdie week se Woord en Klank op RSG het Elisabeth Eybers se werk bespreek en haar gedigte het my sommer weer van voor af laat verlief raak op Afrikaans. Maar, moet my nie verkeerd verstaan nie, dis nou nie verlief in ’n soort een-taal-een-volk manier nie. Nee, verlief in ’n hierdie-taal-spreek-tot-my-hart manier. En tot ’n weer besef en verwondering dat die mensdom die diepste emosies en pragbeelde in mekaar se gedagtes kan skep deur net ’n klomp klanke in ’n spesifieke volgorde te maak.


*Dit is byna meer gevaarlik om my by so ’n uitverkoping toe te laat as by Exclusive Books se uitverkoping wanneer jy ’n kilogram boeke vir R50 kan koop! 

No comments:

Post a Comment