Showing posts with label RSG. Show all posts
Showing posts with label RSG. Show all posts

Friday, September 19, 2014

Die Bybel: 'n Direkte Vertaling - potgooie en skakels

“Die doel van hierdie Afrikaanse Bybelvertalingsprojek is om 'n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik te skep.” – Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Potgooie
Op 3 Augustus en 17 Augustus het Die tale wat ons praat op RSG interessante onderhoude met dr. Karen de Wet (die voorsitter van die literêre advieskomittee) gevoer oor Die Bybel: ’n Direkte Vertaling. In hierdie onderhoud word die wyse waarop die vertaling geskied eenvoudige uiteengesit. 


Die ingewikkeldheid van hierdie tipe vertaling, die sorg waarmee dit geskied en die manier waarop woorde vir die teikenteks gekies word, is baie interessant. Ek dink die potgooi gee ook die luisteraar ’n algemene oorsig van die manier waarop alle vertalings (behoort te) geskied. Vertaling behels veel meer as om slegs ’n teks in Google Translate in te tik en ’n knoppie te druk. Dit is eintlik ’n spel met woorde – om die perfekte een te vind om die bronteks vir ’n nuwe gehoor oor te dra.



Tuesday, February 4, 2014

’n Potgooi en historiese fiksie

Potgooi oor vertaling
Sondag 2 Februarie 2014 was daar ’n baie interessante insetsel oor nie-fiksie vertaling op Die tale wat ons praat op RSG. Luister gerus hier na die gesprek tussen Magdaleen Krüger en Ilse Salzwedel.

Huidige leesgenot
Tans lees ek Karel Schoeman se klassieke werk ’n Ander land. Soos sy ander boeke stel dié een nie teleur nie. Die 2006 Human & Rousseau Klassiek-uitgawe is aanlyn by Kalahari, Exclusive Books en Takealot beskikbaar vir tussen R173 en R220.

Ek kan ook Schoeman se boeke Hierdie lewe en Na die geliefde land aanbeveel.

Gaan kyk gerus na my Goodreads-bladsy vir ander boeke wat ek al opgelaai het.



Friday, January 24, 2014

Taalsake: Hennie Aucamp op tagtig

Gaan luister gerus na 22 Januarie se RSG Skrywers en boeke potgooi:

"Ilse Salzwedel bring hulde aan Hennie Aucamp wat vandeesweek sy tagtigste verjaarsdag vier. Sy gesels met prof. Andries Visagie (UP), prof. Louise Viljoen (US) en prof. Helize van Vuuren (NMM) oor sy werk. Daar is ook argiefopnames van ʼn veel jonger Aucamp wat een van sy gedigte voorlees en ʼn voorlesing van ʼn Bruidsbed vir Tant Nonnie, een van Aucamp se bekendste verhale. Amanda Strydom sing Fanie en Bettie, een van die liedjies uit Aucamp se kabaret, 'n Vuur gevang in glas."

Klik hier om te luister.


(Beskrywing van potgooi verkry vanaf die RSG-webwerf.)

Monday, July 29, 2013

Music Monday: "Ho Hey" by The Lumineers

It's not every day that I tweet a thanks to a radio station for playing a song I love, but when RSG* played "Ho Hey" by The Lumineers it really made my day a LOT better.



So, I hope that you're not having a blue Monday, but, if you do, I hope this will make it a bit brighter!

Please enjoy this great song and music video -


* For those visiting the blog for the first time, followed the link and wondered why I'm listening to an all Afrikaans radio station - English isn't my first language, Afrikaans is :D
Also, I just love the radio station. *insert another shameless plug*

Friday, March 1, 2013

Om weer verlief te raak op (jou) taal


Wonderlike plakkaat deur Burning Through Pages

Nou die dag het die webwerf Medieval and Earlier Manuscripts laat weet dat die Beowulf-manuskrip nou aanlyn beskikbaar is. Dadelik twiet ek die skakel en gaan kyk weer na die eerste bladsy van dié eeue-oue manuskrip. Omtrent twee jaar voor ek die eerste keer ’n foto daarvan gesien het, het ek Seamus Heaney se vertaling van dié epiese gedig gelees en is totaal meegevoer deur Beowulf, Grendel en die draak. Dít was in graad 11. Ek sal nooit vergeet toe ek in ’n af biologieklas die boek uithaal en vir seker die vierde keer daardie maand begin lees nie. Die meisie wat langs my gesit het vra toe waaroor dit gaan – die arme ding het nie besef sy gaan die hele storie en ’n goeie dosis oor Oudengels hoor nie. (En vir die hoeveelste keer moes ek hoor dat ‘meisies nie súlke boeke moet lees nie’.)

So drie jaar terug spoor ek by ’n biblioteekboekverkoping deel 10 van die Afrikaanse Kinderensiklopedie op en kan nie my geluk glo nie*. Hierdie spesifieke deel bevat Afrikaanse vertellings van, onder andere, die Noorse mitologie en ook van die held Beowulf. Tog bly dit vreemd hoe iets in mens se eie taal die hart kan roer. Neem nou byvoorbeeld Koos du Plessis se pragtige, hartroerende lirieke. Of P.G. duPlessis se “Sommer Stories” wat in ’n paar honderd woorde mens kan laat skater van die lag, laat huil of mens vir dae aan een iets kan laat oordink. (Wys hulle mos nou weer Koöperasiestories op SABC 2. Laas Vrydag wys “’n Ruikertjie geelperskes” en daar huil ek omtrent my oë uit. Die man is ’n meester!) Ek dink nie daardie stories sal dieselfde geur hê in Engels nie.



'n Versameling van P.G. du Plessis se verhale
Hierdie week se Woord en Klank op RSG het Elisabeth Eybers se werk bespreek en haar gedigte het my sommer weer van voor af laat verlief raak op Afrikaans. Maar, moet my nie verkeerd verstaan nie, dis nou nie verlief in ’n soort een-taal-een-volk manier nie. Nee, verlief in ’n hierdie-taal-spreek-tot-my-hart manier. En tot ’n weer besef en verwondering dat die mensdom die diepste emosies en pragbeelde in mekaar se gedagtes kan skep deur net ’n klomp klanke in ’n spesifieke volgorde te maak.


*Dit is byna meer gevaarlik om my by so ’n uitverkoping toe te laat as by Exclusive Books se uitverkoping wanneer jy ’n kilogram boeke vir R50 kan koop!