Boekresensie: The Dragon’s Trail: The Biography of Raphael’s Masterpiece deur Joanna Pitman. ’n Touchstone Book, gepubliseer deur Simon & Schuster. ISBN-13: 978-0-7432-6513-3.
Vind dit hier op Goodreads.
In The Dragon’s Trail, vertel Pitman die verhaal van ’n enigmatiese klassieke meesterstuk deur een van die Renaissance se bekendste kunstenaars. Ek dink nie enigiemand kan voor een van Raphael se kunswerke staan – of selfs net daarna kyk nie – sonder om deur die skoonheid en talent van die kunstenaar se kwas aangeraak te word nie. Sy skildery, St. George en die draak – wat in 1506 as opdragwerk aangevra is – is geverf toe Raphael slegs drie-en-twintig was. Maar Pitman vertel nie net die verhaal van hoe die skildery geverf is nie, maar volg die lang lewe van hierdie wonderlike skildery deur die daaropvolgende eeue tot die hede.
Hierdie verhaal is nie slegs die verhaal van ’n skildery nie, maar ook die verhaal van die mense wat dit besit en hulle plek in die geskiedenis en sluit in konings, rewolusies, rykdom en armoede en strek van Italië, Engeland en Rusland na Amerika. Pitman skryf in pragtige, dramatiese prosa wat meer soos ’n roman as ’n boek oor kunsgeskiedenis of geskiedenis lees. The Dragon’s Trail is ’n boek vir die leke persoon of die kunsliefhebber, maar ongeag hiervan, is die passie waarmee die boek geskryf is die aansteeklik. Pitman se liefde van kuns en veral hierdie kunswerk word wonderlik in hierdie boek uitgebeeld.
Ek kan hierdie boek aanbeveel vir liefhebbers van geskiedenis, kuns en die Renaissance. Maar, alhoewel die boek se stofomslag wel ’n pragtige kleurafbeelding van die skildery bevat, sou ek dit verkies het as die afbeelding van die skildery binne die boek ook in kleur was en nie slegs in grys nie. Dalk in ’n volgende uitgawe?
Vir algemene leesgenot en -baarheid, gee ek die boek vier en ’n half uit vyf sterre. Definitief ’n boek wat ek weer sal lees.
Foto deur wikipedia.


No comments:
Post a Comment